|

Boerdery in gedrang: Uitspraak oor mynbou sonder skadevergoeding skep gevaarlike presedent

Die skokkende onlangse uitspraak in die Mpumalanga Hooggeregshof wat beslis het dat mynboubedrywighede op ’n boer van Delmas se grond mag voortgaan al is ’n vergoedingsooreenkoms nooit bereik nie gaan verreikende gevolge inhou vir landbou. Só waarsku AfriForum en die netwerk vir familieboere, Saai, nadat ’n kommersiële boerdery die organisasies om hulp genader het. AfriForum is in die proses om regsopinie in te win oor wat die wyer implikasies van hierdie uitspraak vir landbou in Suid-Afrika gaan wees.

Die burgerregteorganisasie meen dat die Departement van Minerale en Petroleumbronne hierdie gevaarlike praktyk moet stopsit voordat dit kan posvat. Volgens Marais de Vaal, raadgewer vir Omgewingsake by AfriForum, is dit juis die departement se verantwoordelikheid om toe te sien dat die land se mineralebronne op ’n volhoubare en regverdige manier ontwikkel word. Dit blyk egter dat hierdie department nie in hierdie situasies as onpartydige reguleerder optree nie en mynboumaatskappye se belange onbillik bevoordeel.

Slegs 1,5% van grond in Suid-Afrika is geskik vir landbou – 46% hiervan is in Mpumalanga. Myn- en prospekteringsregte is egter reeds toegeken op meer as 60% van Mpumalanga se oppervlak. Voorts is daar gevalle waar aansoeke vir mynlisensies ingedien word vir regte om op grond so na as 500 m van ’n dorp te myn, wat beteken dat gemeenskappe ’n myn byna op hul voorstoep kan hê. Hierdie oormatige mynbouaktiwiteite bring nie net voedselsekerheid in gedrang nie, maar het ook verreikende ekologiese gevolge.

CJ Williams en Seuns Boerdery (Edms.) Bpk. is sedert 2019 in onderhandelings met Stuart Coal (Edms.) Bpk. gewikkel om ’n vergoedingsooreenkoms te bereik om te vergoed vir moontlike verliese wat die boerdery weens die mynboubedrywighede kan ly. Stuart Coal beskik oor die regte om steenkool op landbougrond in die Delmas-gebied te myn. Die partye kon egter nie daarin slaag om ’n ooreenkoms te bereik nie en CJ Williams en Seuns Boerdery het die mynmaatskappy gevolglik toegang tot die eiendom geweier. 

Intussen is die geskil, ingevolge artikel 54 van die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleum Hulpbronne 28 van 2002, vir beslegting verwys na die streekbestuurder van die Departement van Minerale en Petroleumbronne in Mpumalanga. Nadat hierdie proses ook ’n dooiepunt bereik het, het die myn die hof genader om die grondeienaar te beveel om toegang tot die eiendom toe te staan sodat mynboubedrywighede kon begin.

Die Mpumalanga Hooggeregshof het in Julie vanjaar die interdik toegestaan en, ondanks die feit dat daar steeds geen ooreenkoms ten opsigte van skadevergoeding bereik is nie, mag die myn nou die eiendom betree en met mynboubedrywighede voortgaan. Die mynboubedrywighede sal na verwagting voor die einde van die jaar ’n aanvang neem. Hoewel die hof meen dat vergoeding steeds moet plaasvind hangende waardasies beteken dit dat die waarde van die grond weens mynboubedrywighede minder gaan wees as wat dit was voordat die mynboubedrywighede ’n aanvang geneem het.

“Hierdie uitspraak skep ’n uiters gevaarlike presedent, omdat dit daarop dui dat die grondeienaar van sy bestaan ontneem kan word met geen waarborg dat regverdige kompensasie deur die mynmaatskappy betaal sal word nie. Omdat landbougrond vir alle praktiese doeleindes deur mynboubedrywighede onvrugbaar gelaat word, sal ’n saaiboerdery nooit weer bedryf kan word nadat ’n oopgroefsteenkoolmyn gevestig is nie,” sê De Vaal.

“’n Boer kan ook nie net sy boerdery oppak en skuif nie. Daarom is die grondeienaar se enigste bedingingsmag om die myn toegang tot die eiendom te weier totdat ’n ooreenkoms oor skadevergoeding bereik is, maar volgens die hof weeg hierdie belang skynbaar minder as die korttermynwinste wat met ’n myn se vernietiging gepaard gaan.”

Die CJ Williams en Seuns Boerdery is ’n vierdegeslag-familieboerdery wat nou in alle waarskynlikheid nie vir die vyfde geslag sal voortduur nie. Die boerdery se inkomste is reeds ’n knou toegedien omdat ooreenkomste vir die uitverhuring van landerye nie hernu kon word nie weens die onsekerheid oor wanneer die mynboubedrywighede gaan begin.

“Hierdie uitspraak is ’n direkte aanslag op die eiendomsreg van grondeienaars regoor die land. As grondeienaars nie eens hul eiendomme kan beskerm teen eksterne magte wat hul regte ignoreer nie, word die fundamentele beginsels van eiendomsreg en regverdige behandeling ernstig ondermyn. Saai sal nie toelaat dat ons lede se eiendomsregte blootgestel word aan sulke onregverdige praktyke nie, en ons staan saam met AfriForum om hierdie kwessie tot die hoogste vlakke te voer. Dit is van kritieke belang dat daar dringende wysigings aan hierdie wetgewing aangebring word om verdere verwoesting te voorkom en om te verseker dat regverdige en billike vergoeding ’n prioriteit bly,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Soortgelyke plasings