|

AfriForum besoek Laerskool Swartkop met teenboelieveldtog

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 20 Januarie die Laerskool Swartkop in Centurion besoek. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net vir nou nie, maar ook vir die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word met die nodige kennis en vaardighede toegerus om as ’n leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind – om boeliebestand te wees. Leerders word ook geleer hoe om tussen afknouery en konflik te onderskei. Die doel van hierdie praatjie is om leerders te bemagtig en hulle meer oor die gevare oor kuberafknouery in te lig,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Ons het reeds byna 200 skole, 120 000 leerders, 6 000 onderwysers en 2 000 ouers reg oor die land oor afknouery, asook die impak daarvan toegespreek. Deur dié praatjies skep ons  hoop en bring ons bewusmaking van afknouery na skole sowel as gemeenskappe. Ons verskaf die nodige kundigheid om afknouery stop te sit,” sluit Bräsler af.

“Dit is vir Laerskool Swartkop belangrik dat ons as skool aandag aan boeliebewusmakingsveldtogte skenk, sodat leerders boeliegedrag kan identifiseer, en leer hoe om hulself in konfliksituasies te posisioneer. Hulle moet bewus gemaak word van watter woorde en aksies tot hulle beskikking is om hulself op ’n gepaste wyse te laat geld, sodat dit tot harmonie kan lei. Die einddoel vir Laerskool Swartkop se leerders sal wees om hulself positief te posisioneer, sodat hulle elke Swarrie-waarde met trots kan uitleef. Dankie aan AfriForum dat julle by ons kom kuier het, dit was ’n voorreg,” sê Elria Geerlings, waarnemende hoof by die Laerskool Swartkop.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings