|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek tot verskeie sake toegetree om na gemeenskappe se belange om te sien.

Die veldtog Red Pretoria is van stapel gestuur om die DA-koalisie in die Tshwane-metro te red en uit die EFF se hande te hou. Dit volg nadat ActionSA aangekondig het dat dié party oorweeg om die koalisie te verlaat om eerder saam met die ANC en EFF te werk sodat Cilliers Brink, burgemeester, uitgestem kan word.

AfriForum en Saai het ook gewaarsku dat ’n onlangse uitspraak in die Mpumalanga Hooggeregshof verreikende gevolge vir landbou inhou. Dié uitspraak bepaal dat mynboubedrywighede op ’n Delmas-boer se grond mag voortgaan al is ’n vergoedingsooreenkoms nooit bereik nie.

Die talle berigte en bewerings van korrupsie en wanvoorstellings in die werwingsproses van Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, se misdaadbestryders stel, volgens AfriForum, dié inisiatief in gevaar. Daarbenewens stel dit ook die inwoners van Gauteng bloot aan swak opgeleide en ongekwalifiseerde wetstoepassers.

In die Jakarandastad het die burgerregteorganisasie ’n beroep op die Tshwane-metro gedoen om dadelik teen politieke partye, wat steeds nie hul verkiesingsplakkate van lamppale in dié metro verwyder het nie, op te tree en te beboet. Kragtens ’n munisipale verordening moet hierdie plakkate eintlik binne 21 dae ná ’n verkiesing verwyder word.

AfriForum verwelkom lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, se onlangse stelling waarin hy vuurwapenlisensiehouers aanmoedig om hulself teen misdadigers te verdedig. Die organisasie benadruk dat dit belangrik is om oor die vermoë te beskik om ’n vuurwapen doeltreffend en wettiglik te gebruik om jouself en die mense om jou te beskerm wanneer daar ’n dreigende aanval is.

Met vullisverwydering wat maande laas in die Lekwa-Teemane Plaaslike Munisipaliteit plaasgevind het, het AfriForum se Bloemhof-tak sake beredder deur hul eie weeklikse vullisverwyderingsdiens te begin. Nagenoeg 20 ton vullis is binne die eerste week hier verwyder. Dié tak het ook meer as tien sakke vullis opgeruim tydens ’n skoonmaakprojek in die hoofstraat.

In Bethal het die groentetuin wat die AfriForum-tak daar bedryf, weer ’n indrukwekkende 250 kg spinasie gelewer wat aan verskeie organisasies geskenk gaan word.

Die Tokologo Plaaslike Munisipaliteit is by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) verkla, aangesien baie inwoners van Hertzogville reeds vir ongeveer drie maande sonder water sit.

In Vanderbijlpark het die AfriForum-tak ook klagtes by die SAMRK ingedien oor riool wat in erwe in die CW-gebied opdam weens ’n stukkende rioolpyplyn.

Die Krugersdorp-tak het ’n klag by die SAMRK ingedien teen die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit oor die gereelde brande wat op die Luipaardsvlei-vullisterrein voorkom. Die SAMRK het die klagte ontvang en gaan die terrein binnekort saam met AfriForum besoek.

AfriForum se Ermelo-en-Chrissiesmeer-tak het 23 sakke vullis verwyder nadat hulle vroeër 18 asdromme op strategiese plekke by ondernemings in Chrissiesmeer geplaas het.

Die Trichardt-, Evander-, Kinross- en Secunda (Teks)-tak het in Julie en Augustus meer as 60 000 m2 skoongesny. Hulle het ook teer en verf ter waarde van R6 000 aan Hoërskool Oosterland geskenk vir opknappingswerk. Dié tak het ook instandhoudingswerk by die Secunda-begraafplaas gedoen.

AfriForum se Lydenburg-tak het R4 000 aan die Lydenburg-sakekamer geskenk vir die skoonmaak en verbetering van die dorp.

In Rustenburg het die plaaslike AfriForum-tak 60 liter padverf gebruik om padmerke in Geelhoutpark, Proteapark, Oos-Einde en Safari Tuine oor te verf.

Die Alberton-buurtwag het met hul mobiele brandweerwa gehelp om ’n brand by ’n eiendom in Alrode onder bedwang te bring.

AfriForum se Strand-buurtwag het in Augustus 2 333 km gery tydens patrollies en onder meer op ’n huisbrand, ’n beweerde voorval van huishoudelike geweld, ’n padwoedevoorval en talle motorongelukke gereageer.

In Bronkhorstspruit het die AfriForum-buurtwag saam met die polisie en ander veiligheidsrolspelers gewerk en 175 mense en 49 voertuie deursoek vir dwelms en onwettige vuurwapens. Talle misdaadbrandpunte is gepatrolleer en twee vermeende dronkbestuurders is vasgetrek. Die N4 is ook saam met die Tshwane-metropolisie gepatrolleer om ysterpenlokvalle hok te slaan.

Soortgelyke plasings