|

Forum Nuus: Die Week se Blitsflits

AfriForum-takke het vandeesweek nie net self ingespring om gras te sny en skoon te maak nie, maar ook duisende rande se toerusting aangekoop om die netheid van hul dorpe te verbeter. 

AfriForum se Groter Moot-tak het ’n nuwe trekker by hul goedgevestigde tuinspan se lys van toerusting gevoeg om op ’n nog groter skaal skoon en netjies te maak. Terselfdertyd het die Middelburg-tak ook ’n trekker aangekoop om gras mee te sny, sowel as bossiekappers en grassnyers.

Die toerusting is aangekoop om die algehele beeld van die dorp op te knap omdat die Steve Tshwete Munisipaliteit nie die nodige instandhouding doen nie.

Die AfriForum-tak in Standerton het die Voetsporemonument skoongemaak nadat dit oorgroei was ná die onlangse baie reën. Dié projek vorm deel van die organisasie se nasionale inisiatief om die land se monumente en erfenisgebiede te bewaar.

Die Voetsporemonument nadat die gras gesny is.

In Ermelo het die tak moue opgerol en die begraafplaas skoongemaak. ’n Kontrakteur is aangestel wat die gras gereeld gaan sny. Die tak en buurtwag gaan in samewerking met TLU SA, Mpumalanga Landbou, die sektorpolisiëring en Spartan Training ’n beveiligingsaksie by die begraafplaas hou sodat inwoners die geleentheid het om geliefdes se grafte veilig te besoek.

R20 000 se gesteelde vee is tydens Paasnaweek deur die Apiesrivier-buurtwag in Pretoria teruggevind nadat buurtwaglede gereageer het ná ’n alarm op ’n kleinhoewe afgegaan het.

In die Noord-Kaap het die Bo-Karoo-tak in Orania in samewerking met die Douglas Jongboervereniging ongeveer 60 ton voer aan boere in die Hopetown- en Vosburg-omgewing geskenk. Dié boere het erge droogtes beleef en groot gedeeltes veld is ook tydens brande verwoes.

Vordering is in die Clover-moordsaak gemaak nadat nog ’n verdagte in hegtenis geneem is. Twee verdagtes is na verskeie verskynings in die hof borgtog geweier. Dié saak waarin AfriForum se privaatvervolgingseenheid ’n waaksaamheidsopdrag het, hervat weer op 23 Junie.

AfriForum het verder ’n versoek aan die Verenigde Nasies (VN) gerig om die belangrikheid van gemeenskappe te erken in die implementering van die 2030-agenda vir volhoubare ontwikkeling. ’n Geskrewe verklaring is ingedien waarin daar gefokus is op probleme soos misdaad, burgerregteskendings, onvoldoende dienslewering en korrupsie wat die oorsaak is van staatmislukkings.

Soortgelyke plasings