AfriForum bied hulp aan Coligny-twee met appèlaansoek


Die burgerregte-organisasie AfriForum het in reaksie op vandag se vonnisoplegging van die Coligny-twee aangedui dat dié organisasie regs- en ander bystand aan Pieter Doorewaard en Phillip Schutte van Coligny gaan verleen om appèl teen hul skuldigbevinding aan te teken. AfriForum het besluit om te help nadat Bonakele Pakisi, die enigste ooggetuie in die moordsaak teen hulle, erken het dat hy in die hof gelieg het toe hy getuig het dat hy gesien het hoe Doorewaard en Schutte die tiener Matlhomola Moshoeu vermoor.

AfriForum sal die appèlkostes dra sodat adv. Barry Roux SC die saak kan hanteer. Adv. Gerrie Nel en sy span by AfriForum se privaatvervolgingseenheid lewer ook bystand om die saak te ondersoek. Die aansoek om appèl sal binne veertien dae gebring word.
Die ondersoekspan van AfriForum se privaatvervolginseenheid het reeds verklarings van vier verskillende persone afgeneem. Dié verklarings dui daarop dat Pakisi teenoor hulle oor sy leuen in die hof gebieg het en dat sy bekentenis ook op band opgeneem is.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, wil sy organisasie, benewens die hulp aan Doorewaard en Schutte, toesien dat Pakisi strafregtelik vervolg sal word vir die meineed wat hy gepleeg het. Volgens Kriel is dit belangrik dat diegene tot verantwoording geroep moet word wat leuens verkondig om rassespanning te skep en valslik ’n wolk van “rassisme” oor onskuldige mense se koppe te laat hang.

“Soos wat Doorewaard en Schutte se lewens deur leuens vernietig is, het ons onlangs ook weer in Schweizer-Reneke gesien hoe rasse-opstokers Elana Barkhuizen, ’n bekwame onderwyseres, se lewe met leuens en wanvoorstellings ontwrig het. Die tyd het aangebreek dat ’n  voorbeeld van leuenaars en rasse-opstokers gemaak word,” sê  Kriel.

Soortgelyke plasings