AfriForum-buurtwagte in noordstreek neem aan nasionale patrollie deel


Die AfriForum-buurtwagte in die noordstreek, wat insluit Gauteng, Limpopo en Mpumalanga, het op Vrydag, 6 April 2018 aan ’n nasionale patrollie deelgeneem.
Tydens dié patrollie het 30 AfriForum-buurtwagte en 852 patrolleerders in 499 voertuie deelgeneem. Daar is altesaam net meer as 31 230 km afgelê en 46 voorvalle is suksesvol hanteer in samewerking met die SAPD.
Daar het 112 ander veiligheidsinstellings saam met AfriForum aan die patrollie deelgeneem, ondermeer GPF’s, sekuriteitsmaatskappye, die SAPD en ander privaat buurtwagte.

“AfriForum loods hierdie nasionale patrollies om sigbaarheid en samewerking te verbeter, en die veiligheid van ons gemeenskappe te verseker,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se streekveiligheidskoördineerder vir die noordstreek.
“AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe om betrokke te raak en self hul veiligheid te begin prioritiseer. Ons kan nie op die staat alleenlik staat maak om na ons veiligheid om te sien nie. Raak by enige plaaslike veiligheidsinstelling in jou omgewing betrokke of sluit vandag nog by AfriForum aan en word deel van die oplossing,” sluit Coetzer af.

Soortgelyke plasings