AfriForum nader hof om SAPD te verplig om beskikbare hulpbronne te gebruik


Hoewel die SAPD by verskeie geleenthede aangedui het dat hulle nie oor die mannekrag en dus vermoë beskik om hul grondwetlike mandaat uit te voer nie, weier hulle om van beskikbare bronne soos reserviste gebruik te maak om hulle te ondersteun.
Reserviste wat nie jaarliks hul bevoegdheidsoefeninge voltooi nie, verloor hul status as aktiewe reserviste en dus die bevoegdheid om die SAPD by te staan. Dit is die SAPD se plig om toe te sien dat hierdie status behou word.
AfriForum het ’n aansoek in die Noord-Gautengse hoë hof in Pretoria gebring om die SAPD te verplig om toe te sien dat reserviste in Kameeldrift die bevoegdheidsoefeninge volgens die toepaslike wetgewing voltooi, insluitend die Wet op die Beheer van Vuurwapens (wet 60 van 2000) en die SAPD se nasionale instruksie 3 van 2014. Indien die hofbevel toegestaan word, sal die SAPD weer toegang hê tot bykomende lede om die tekort aan mannekrag te verlig.

“Dit is frustrerend dat die SAPD hul onvermoë om misdaad na behore te beveg met die argument verdoesel dat hulle nie oor die nodige mannekrag beskik nie – terwyl daar onontginde bronne bestaan wat eenvoudig nie deur die SAPD aangewend word nie,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid.

Die SAPD word nou die geleentheid gegun om op die bewerings in AfriForum se aansoek te antwoord en te verduidelik waarom hulle versuim om die nodige stappe te neem om reserviste op gereedheidsgrondslag te plaas.

“AfriForum sal alles moontlik doen om die gemeenskap se veiligheid te probeer verseker. Die feit dat lede van die publiek benadeel word deur die SAPD se onvermoë om tydige en doeltreffende dienste te lewer, spruit gereeld uit die onvoldoende beskikbaarheid van SAPD-lede en beskikbare hulpbronne wat onbenut bly,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

Soortgelyke plasings