AfriForum en Caring Daisies lewer 50 ton voer in droogtegeteisterde Wes-Kaap af

 

Die burgerregte-organisasie AfriForum het in samewerking met Caring Daisies gehelp om 50 ton bale voer en mielies aan boere in die droogtegeteisterde Wes-Kaap te lewer.

Skenkings wat AfriForum-lede en lede van die publiek aan dié organisasie se noodfonds gemaak het, het dit vir AfriForum moontlik gemaak om die brandstof- en vervoerkoste gedeeltelik te befonds, terwyl Caring Daisies die hele projek gekoördineer het. AfriForum se span was by toe die voer in Prince Albert afgelewer is.

“Omdat gedeeltes van die land tans onder erge weer en swaar reënval gebuk gaan, kan ’n mens amper vergeet dat daar steeds groot dele van die land is wat sedert die begin van 2016 nog geen reën gehad het nie. Weens die voortslepende droogte moes boere voer vir hul diere aankoop en sukkel nou om die pot aan die kook te hou,” sê Guido Urlings, nasionaleveldtogbeampte by AfriForum.

Urlings voeg by dat dié verligting slegs tydelik is omdat die gebied steeds onder die voortslepende droogte gebuk gaan, veral omdat die reënseisoen agter die rug is en min tot geen verligting gebring het nie. AfriForum moedig die publiek aan om die noodfonds steeds te ondersteun om ’n volhoubare verskil te help maak.
Lede van die publiek wat wil help om dié krisis, asook toekomstige krisisse, op permanente grondslag die hoof te bied, kan AfriForum se noodfonds ondersteun deur hul name na 45344 te SMS (R1) of R10 skenk deur “Nood” na 38312 te SMS.

Soortgelyke plasings