|

AfriForum help waterkrisis in Leeupoort oplos

Die inwoners van Leeupoort, ’n vakansiedorp sowat 80 km vanaf Thabazimbi, het uiteindelik weer water nadat die burgerregte-organisasie ingegryp het.

Die dorp gaan sedert die begin van die jaar onder waterprobleme gebuk.

Toe die oorspronklike waterpomp net “verdwyn” het, het AfriForum aanmaningsbriewe aan die Thabazimbi plaaslike munisipaliteit gestuur om dit te vervang.

Die munisipaliteit het dit gedoen, maar ’n te klein pomp is geïnstalleer. Dit is daarna met ’n groter en beter een vervang, wat egter na ses maande, vermoedelik weens gebrekkige instandhouding, uitgebrand het.

Aanmaningsbriewe is toe weer aan die munisipaliteit en die departement water en sanitasie gestuur. Verskeie gesprekke is ook met die munisipaliteit en departement gevoer.

Die departement het uiteindelik ’n taakspan aangestel en gestuur wat na die totale omvang van die probleme gekyk het.

AfriForum moes egter verlede week dringend ingryp en ’n kontrakteur aanstel om ’n pomp dringend te installeer sodat die dorp nie die naweek sonder water sou wees nie. ’n Musiekfees is in die naweek op die dorp gehou.

Morné Mostert, provinsiale koördineerder vir Limpopo, het gesê die kontrakteurs sal hul werk na verwagting môre klaarmaak. Nie net is die eerste pomp geïnstalleer nie, maar die hele stelsel is ook oorgedoen.

Mostert het gesê dié projek is fase een van ’n groter projek waar ’n tweede boorgatpomp geïnstalleer moet word om voldoende water aan die gemeenskap te voorsien. Die tweede fase sal deel vorm van AfriForum se 10 dae van selfstandigheid wat op 28 September afskop. AfriForum-takke regoor die land sal by selfdoenprojekte betrokke wees waar onder meer slaggate herstel, riviere en vullisterreine skoongemaak en straatligte vervang sal word.

Mostert het gesê die Leeupoort-projek is ’n bewys van hoe gemeenskappe eienaarskap van probleme neem en self iets daaraan doen, terwyl die staat se vermoë om te regeer besig is om te verswak.

Hy het gesê dit is danksy AfriForum-lede soos Spike Eygelaar en Koos Nel, wat bereid is om hul kundigheid te deel, dat Leeupoort se mense nou weer voldoende water het.

AfriForum gaan stappe doen om die uitgawes vir die waterpompe van die munisipaliteit te verhaal.

 

Soortgelyke plasings