AfriForum hou ’n sigbaarheidsoperasie by die Voortrekkermonument


Weens ’n toename in misdaad rondom die Voortrekkermonument het dié monument se bestuur die burgerregte-organisasie AfriForum genader om met die beveiliging van dié terrein te help.
AfriForum Veiligheid het op 13 Julie 2018 ’n sigbaarheidsoperasie by die monument uitgevoer waaraan sowel AfriForum se Kempton Park- en Pretoria-Wes-veiligheidstrukture as die hoërisiko-eenheid deelgeneem het. AfriForum sal die monument voorts met ’n veiligheidsoudit van die terrein bystaan en voorstelle maak om veiligheid in die omgewing te verbeter. Sigbaarheidspatrollies op die terrein sal ook met die hulp van plaaslike AfriForum-veiligheidstrukture opgeskerp word.

“Die Voortrekkermonument is ’n toeristebestemming. Dit is dus tot voordeel van die gemeenskap as ’n geheel dat areas soos hierdie veilig en toeganklik vir besoekers moet wees,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se streekveiligheidskoördineerder vir Gauteng, Limpopo en Mpumalanga.
“AfriForum beskik tans oor meer as 7 000 patrolleerders regoor Suid-Afrika en die organisasie wil elkeen graag bedank vir die tyd en moeite wat hulle afstaan om ’n verskil in gemeenskappe regoor Suid-Afrika te maak. Ons wil lede van die gemeenskap terselfdertyd aanmoedig om by veiligheidsorganisasies in hul gebied betrokke te raak,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se assistentveiligheidskoördineerder vir Gauteng, Limpopo en Mpumalanga.

Soortgelyke plasings