|

AfriForum Jeug hou werkswinkel om die siklus van middelmisbruik te breek

AfriForum Jeug bied Saterdag om 09:00 in die Bosvysaal by Koshuis@Leriba ’n opleidingsessie aan met die doel om die siklus van middelverslawing te breek. Dis gemik op skoliere en jong volwassenes en die sessie is gratis om by te woon.

“Baie kinders voel dis hul skuld as hul ouers, broer of suster alkohol of dwelms misbruik. Hierdie sessie is daarop gemik om te wys dat dit nie die geval is nie. Alhoewel verslawing iets is wat oorgeërf kan word, is dit nie ’n uitgemaakte saak dat die kind van ’n verslaafde ook ’n verslaafde moet word nie. Die sprekers wat gaan gesels gaan verduidelik hoe om die siklus te breek,” sê Adrienne Krause Jeugbeampte vir ontwikkeling by AfriForum Jeug.

Daar sal drie sprekers wees wat elk ’n sessie op die dag sal lei. Paul Smit, wie verantwoordelik is vir leierskapsontwikkeling en personeelopleiding by Akademia, sal gesels oor jou identiteit en hoe jy dit beskerm as jy in ’n huis woon waar daar ’n middelverslaafde is. Yolandi Singleton, hoof van die Ons Sentrum kinderterapiesentrum van Solidariteit Helpende Hand, sal praat oor oorerflikheidsfaktore van verslawing en hoe ’n mens kan seker maak dat ’n kind van ’n verslaafde nie dieselfde pad hoef te stap nie.

Paul Smit

Die derde spreker is Jan Greyvensteyn wat ’n sentrum vir verslaafdes in Pretoria bedryf. Hy sal gesels oor die simptome van verslawing wat ’n mens kan help om ’n probleem te identifiseer. Voorts sal hy verduidelik dat dit nie jou skuld is as jy iemand probeer help, maar hulle nie van hul pad van verslawing wil afwyk nie.

Verversings sal by die sessie bedien word en die dag se aktiwiteite behoort teen 10:30 afgehandel te wees. AfriForum se Traumaeenheid sal ook ’n stalletjie by die dag hê waar hulle inligting oor allerlei onderwerpe beskikbaar sal hê. Daar is beperkte plek by die sessie. Bespreek jou plek hier.

Soortgelyke plasings