Vullisterreine in Gauteng-Noord verbeter steeds


AfriForum het vandeesmaand al die vullisterreine in die Tshwane Metropool geoudit as deel van dié burgerregte-organisasie se landwye vullisterreinouditprojek. Die oudit vorm deel van ’n jaarlikse nasionale veldtog waartydens vullisterreine in dorpe waar AfriForum-takke gevestig is aan die hand van 33 vrae gemeet word.
Volgens toepaslike wetgewing en regulasies, onder meer die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis, 2008 (wet no. 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes oor toegangsbeheer en regulasies oor onwettige storting, omheining en rehabilitasie, asook brandregulasies voldoen. ’n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om AfriForum se oudit te slaag.

“Die vullisterreine in Gauteng-Noord het almal meer as 80% behaal en voldoen dus aan die minimum wetlike standaarde. Daar woon egter ’n aantal mense op sommige van die persele, wat ’n groot gesondheidsrisiko inhou,” sê Tiaan Oosthuizen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng-Noord.

Die uitslae is soos volg:

Vullisterrein Munisipaliteit Lisensienommer 2016 2017 2018
Bronkhorstspruit Tshwane Metro B33/2/220/116 64% 75% 88%
Ga-Rankuwa Tshwane Metro 16/2/7/A230/D9/Z3/P489 83% 92%
Hatherley Tshwane Metro B33/2/123/88/P215 36% 80% 80%
Onderstepoort Tshwane Metro OP-GPL-00-052 52% 70% 84%
Soshanguve Tshwane Metro B33/2/123/101/P43 83% 84%
Bon Accord The Waste Group (privaat) B33/2/123/154/P191 98% 98%
Mooiplaats The Waste Group (privaat) 16/2/7/A230/154/21/p311 76% 99% 98%
Interwaste FG Landfill Site Interwaste Environmental Solutions (privaat) GAUT 002/10-11/W0030 100% 100% 100%

 
Die uitslae van die landwye oudit gaan in ’n verslag opgeneem en aan die departement van omgewingsake oorhandig word.

“Ons is dankbaar vir die departement se samewerking en dat die provinsiale afvalbestuursbeamptes ons bygestaan het,” sê Chris Boshoff, AfriForum se koördineerder vir omgewingsake.
“Dit is verblydend om te sien dat AfriForum se druk die positiewe gevolg het dat vullisterreine in dié gebied aanhou verbeter. Die vullisterreine onder Tshwane Metropool-bestuur het baie goed gevaar, maar vullisterreine onder privaat bestuur het nóg beter gevaar. Algemene probleme wat AfriForum by hierdie vullisterreine geïdentifiseer het, is diefstal en vandalisme van heinings,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng-Noord.

Ná afloop van die projek gaan AfriForum in samewerking met ’n afval-tot-energie-maatskappy ’n alternatiewe plan vir vullisterreine in Suid-Afrika bekend stel. Soortgelyke projekte is uiters suksesvol in ander lande. AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat vullisterreine wat te kort skiet op standaard gebring word.
SMS “Vullis” na 45341 (R1) om by AfriForum aan te sluit.

Soortgelyke plasings