|

AfriForum-kongres: Taklede wil hoop skep én ’n verskil maak

Deur Mariska Nanni

Meer as 600 lede van AfriForum se tak- en veiligheidstrukture regoor die land het dié burgerregte-organisasie se derde nasionale kongres die afgelope naweek in Warmbad bygewoon.

En hoewel dié lede van verskillende dorpe gekom het, het hulle almal een ding in gemeen: Die wil om ʼn verskil te maak en hoop te skep.

Forum Nuus het met ʼn paar kongresgangers gesels om uit te vind waarom hulle die organisasie ondersteun.

Vir Johnny Baard (21), voorsitter van AfriForum se Velddrif-tak in die Wes-Kaap, was die antwoord eenvoudig:  “AfriForum bied my die perfekte geleentheid om saam met ander trotste Afrikaners hoop vir die hele land asook die Afrikanergemeenskap te skep.”

Grantelle Uys, lid van die Rayton-Cullinen-tak in Gauteng, sê dat die organisasie help om die land ʼn beter plek te maak. “Ons moet net aanhou om hard te werk en saam te staan. Solank as wat ons deursettingsvermoë het en nie slap lê nie, sal ons ʼn daadwerklike verskil in gemeenskappe kan maak.”

Oudsoldaat en voorsitter van AfriForum se Stellenbosch-tak, Jan Isaacs, sê dat die regering nie almal se belange op die hart dra nie, maar dat daar stééds hoop is danksy organisasies soos AfriForum.

“Ek is ’n Kleurling-Afrikaner en ondersteun AfriForum omdat hulle staan vir wat reg is. Die regering kyk nie na almal nie. Maar daar is hoop. Daar is hoop vir ons toekoms en daar is hoop vir ons kinders in hierdie land. Ek is baie opgewonde en glo dat ons bymekaar moet staan om ʼn verskil te maak,” sê hy.

Patrick Fray, ook ʼn oudsoldaat en ʼn lid van die Stellenbosch-tak waar hy aan die stuur van die gemeenskapsveiligheidportefeulje is, sluit by Isaacs aan deur te sê dat ʼn mens nie op die regering kan staat maak nie, maar dat jy egter struikelblokke in jou land en gemeenskap kan oorkom deur selfdoen-inisiatiewe.

“Ek het by AfriForum geleer dat jy self ʼn toekoms vir jou, jou familie en ander om jou kan bou. Dis belangrik om self verantwoordelikheid te neem – vir jou veiligheid, jou taal, jou kultuur en jou toekoms.”

Vrystater Yvonne Binding, lid van die Bloemfontein-Noord-tak, sê dat AfriForum gewone mense in staat stel om ʼn verskil maak. “In plaas daarvan dat ons magteloos voel en toelaat dat dit wat in die land verkeerd gaan ons verswelg kan ons self opstaan, saam staan en ʼn verskil maak. Ons moet die groter toekomsprentjie raaksien en ons deel doen.”

Petrus Meintjies, lid van die Hetzogville-tak, beaam dié stelling en sê dat elkeen nie net sy eie pad moet volg nie, maar as een volk moet saamwerk.

Piet Bennett, lid van die tak in Pretoria-Noord, sê dat hy al baie jare by die Solidariteit Beweging betrokke is en dat AfriForum sorg dat Afrikaners en Afrikaansprekendes nie net ʼn stemroep in die woestyn is nie. Vir hom is dit ʼn “wen-wen situasie om deel van dié burgerregte-inisiatief te wees”.

Soortgelyke plasings