|

AfriForum se Teenboelieveldtog inspireer leerders by Laerskool Aristea

Die span van AfriForum se Teenboelieveldtog het op 10 Mei die Laerskool Aristea in Kraaifontein besoek. Hierdie energieke span en hul gelukbringer, Matteus, het 989 leerders aan dié skool met ’n boodskap van hoop, respek en bemagtiging bereik.

Hierdie geleentheid het die leerders met opwinding en entoesiasme betrek en dit was duidelik dat die boodskap ’n blywende impak gehad het.

“Die was ’n oulike, interaktiewe en leersame les vir die leerders. Die inhoud was geskik vir die jong leerders – hulle het dit verstaan, geniet en dis maklik om te onthou. AfriForum se teenboelieveldtogspan het beslis ’n positiewe verskil gemaak,” sê Tessy Auret, Laerskool Aristea se adjunkhoof.

Luidens Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap, bemagtig AfriForum skole landwyd met die Teenboelieveldtog vir die afgelope sewe jaar deur hoop te skep en om kinders aan te moedig om mekaar met die nodige wedersydse erkenning en respek te hanteer.

“Hierdie veldtog maak ’n positiewe bydrae tot die veiligheid van die gemeenskap deur die boompies te buig terwyl hulle nog jonk is – die jeug is immers ons toekoms,” sê Bräsler.

’n Langtermynstudie het bevestig dat diegene wat geboelie is gedurende adolessensie, later meer geestesgesondheidsprobleme ervaar, insluitend interne (soos depressie) en eksterne (soos aggressiewe gedrag) probleme.

Tania Scheepers, AfriForum se projekassistent vir onderwys, sê dit is vir AfriForum belangrik dat leerders die praatjie oor boeliegedrag, wat gebaseer is op die volle wapenrusting van God, bywoon omdat hulle dit kan gebruik om boeliegedrag hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms.

“Ná afloop van die praatjie weet elke leerder hoe om boeliegedrag te identifiseer en hoe om dit stop te sit. Dit is van kardinale belang om leerders op ’n jong ouderdom met die vaardighede toe te rus om dus gevare in die toekoms te voorkom,” sê Scheepers.

Die leerders van Laerskool Aristea het met nuwe kennis en selfvertroue uit die sessies gestap; gewapen met die vaardighede om boelies te identifiseer en teen te staan.

Vir meer inligting oor AfriForum se Teenboelieveldtog en om die teenboelie- en kuberboeliegids gratis af te laai, besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings