|

AfriForum veg teen ideologies gedrewe waterwette wat voedelsekerheid kan bedreig

Dit volg op verskeie ander stukke wetgewing en regulasies wat sedert die begin van 2023 aangekondig is om te help om kosbare waterhulpbronne in die land te bestuur. Alhoewel daar volgens die regering goeie bedoelings met hierdie wetgewing en regulasies is, meen AfriForum dat dit diep in die ANC se ideologie van onteiening gewortel is en ernstige gevolge vir voedelsekerheid in die land kan hê.

Transformasie deur konsepregulasies oor watergebruiklisensies kommerwekkend

Senzo Mchunu, minister van Water en Sanitasie, het op 19 Mei 2023 konsepregulasies oor watergebruiklisensies aangekondig en kommentaar kon tot 18 Julie 2023 ingedien word. Die doel van dié regulasies is om veranderings aan die prosedurele vereistes vir watergebruiklisensies aan te bring. Hiermee wil die regering die aansoekproses vereenvoudig en verkort. Voorts sal openbare deelname strenger wees – wat deursigtigheid sal bevorder –, maar die regulasies het ook ’n aantal tekortkominge en sluit vereistes vir transformasie in.

Die regering voer aan die regulasies is nodig om onsekerhede op te klaar en om die billike toekenning van lisensies te bevorder. AfriForum meen egter die wyse waarop die regulasies transformasie wil bewerkstellig, is onwettig.

“In besonder is dit boerderye wat as wit familie-ondernemings bedryf word wat negatief geraak sal word. Met die magdom struikelblokke wat oorkom moet word, kan beleggingsvertroue in die landbousektor geknou word. Voedselsekerheid kan ook hieronder ly wat elke landsburger raak,” sê Marais de Vaal, raadgewer vir Omgewingsake by AfriForum.

AfriForum het verlede jaar geëis dat dié regulasies teruggetrek moet word aangesien dit strydig is met die Nasionale Waterwet. Die regering poog inderwaarheid om die wet hiermee aan te pas sodat die regulasies nie strydig met die wet sal wees nie.

“Terwyl die Departement van Water en Sanitasie (DWS) misluk het om transformasiedoelwitte in die watersektor te bereik met die toepassing van bestaande meganismes waarvoor die Nasionale Waterwet reeds voorsiening maak, kan daar afgelei word dat die regering met die beoogde wysigings die indruk wil skep dat hy ernstig is oor transformasie. Die onvoorsiene gevolge kan egter rampspoedig wees,” sê De Vaal.

Aanpassings aan Nasionale Waterwet kan waterrade knak

’n Nuwe wetsontwerp is op 17 November 2023 aangekondig wat poog om die Nasionale Waterwet van 1998 en die Wet op Waterdienste van 1997 te wysig. Die hoofdoel van die veranderings is om die land se beperkte waterbronne beter te bestuur en om ’n raamwerk vir basiese watervoorsiening en sanitasie te skep. Munisipale bestuurders sal ook in hul persoonlike hoedanigheid vir die oortreding van die waterwet verantwoordelik gehou kan word.

“AfriForum verwelkom die gestelde doelwitte wat met die wysigings aan die wet bereik wil word, maar daar is egter ’n aantal bepalings wat tans vaag is en onvoorsiene gevolge kan hê. By nadere ondersoek is daar byvoorbeeld gevind dat ’n verdere rede vir die wysiging aan die waterwet is om die toekenning van watergebruiklisensies aan rassekwotas te onderwerp,” sê De Vaal.

Volgens De Vaal word sekere verantwoordelikhede soos byvoorbeeld die lewering van sanitasiedienste na waterrade oorgedra. Dit moet dan as kitsoplossing dien vir munisipaliteite wat nie die mas opkom nie. Waterrade is egter reeds onder finansiële druk en hierdie ekstra verantwoordelikheid kan hul vermoë om hul belangrikste taak uit te voer, naamlik die voorsiening van grootmaat water, verder bemoeilik.

Die konsepwetgewing maak ook voorsiening vir rassekwotas, maar die lukrake wyse waarop die wetsontwerp beoog om transformasie op die watersektor af te dwing, kan trouens tot groter ongelykheid lei. Daar is ook onsekerheid oor toekomstige aansoeke vir waterlisensies as hierdie wetsontwerpe wel aanvaar word.

Dan bestaan die gevaar ook dat wettige lisensiehouers se waterregte onteien kan word indien hulle nie ’n bepaalde hoeveelheid (wat nog vasgestel moet word) van die gemagtigde volume water binne ’n sekere tydperk vir die gelisensieerde watergebruik uitgeoefen het nie. Reënval en weersomstandighede speel ’n beduidende rol op veral die landbousektor se watergebruik. Met ander woorde, ’n boer kan in ’n gegewe seisoen sy gemagtigde volume water ten volle gebruik vir besproeiing, maar in ’n volgende seisoen net die helfte daarvan nodig hê. Só ’n verandering is dus irrasioneel en behoort geskrap te word, meen De Vaal.

“Teen die agtergrond van die krisis waarin die land se skaars natuurlike waterhulpbronne en die voorsiening van waterdienste verkeer, wat die armste en kwesbaarste mense in die samelewing die swaarste straf, behoort die volhoubare bestuur van waterhulpbronne en die volhoubare lewering van waterdienste die ondubbelsinnige doelwit van hierdie beoogde wysigings te wees,” sê De Vaal.

“Die verskuilde transformasiedoelwitte wek heelwat kommer omdat die regering reeds klaaglik daarin misluk het om betekenisvolle transformasie te bewerkstellig en ook omdat daar geen rasionele verband tussen die transformasiedoelwitte en die volhoubare bestuur van waterhulpbronne en die voorsiening van waterdienste bestaan nie.”

Is ’n NWHIA lewensvatbaar?

Alhoewel ’n NWHIA in teorie na ’n goeie idee klink om kosbare waterhulpbronne te help bestuur, is daar vrae oor hoe lewensvatbaar dit sal wees. “As die beoogde agentskap van staatshulp afhanklik sou raak om aan die gang te bly, voorspel dit niks goed nie. Kyk maar wat met ander staatsentiteite soos Eskom, Denel en die Suid-Afrikaanse Lugdiens gebeur het,” sê De Vaal.

’n Verdere groot bekommernis is dat die volle koste van waterbeskikbaarheid en die bestuur daarvan van gebruikers verhaal gaan word om die NWHIA sodoende meer volhoubaar te maak. Hierdie voorstel sal ernstige implikasies vir veral die landbousektor hê. Dit kan reuseverhogings in watertariewe te weeg bring wat besproeiing onbekostigbaar sal maak. Dit sal ook ’n ongelooflike impak op voedselpryse hê.

“Hierdie wetgewing is vol mooi beloftes, maar dis onduidelik hoe dit bereik gaan word. Geen ander oplossings is oorweeg of ondersoek nie. AfriForum beskou hierdie konsepwet dus as blote verkiesingsbeloftes,” sê De Vaal.

AfriForum stop konsepregulasies vir watergebruik vir ontspanningsdoeleindes

Danksy volgehoue druk van AfriForum is die konsepregulasies vir watergebruik vir ontspanningsdoeleindes, nóg ’n stel regulasies wat verlede jaar aangekondig is, teruggetrek nog voordat die kommentaartydperk verstryk het. Hierdie regulasies sou ook op die onteiening van waterregte neergekom het.

Volgens De Vaal sal die burgerregteorganisasie voortgaan om teen hierdie wysigings aan die waterwette te veg om wetsgehoorsame burgers se regte te beskerm.

Soortgelyke plasings