|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Laerskool Krugerpark

AfriForum se teenboelieveldtogspan het in Julie by die Laerskool Krugerpark in Mokopane, Limpopo, besoek afgelê en 720 leerders met hul praatjie bereik. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

Boeliegedrag is wydverspreid in Suid-Afrikaanse skole. ’n Studie van 2022 deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het bevind dat ongeveer een uit elke vyf leerders slagoffers van boeliegedrag is. Die gevolge van boeliegedrag kan ernstige gevolge inhou vir slagoffers en sluit in swak akademiese prestasie, lae selfbeeld, depressie, angs en selfs selfmoordgedagtes. Boelies self kan ook negatiewe uitkomste ervaar, insluitend ’n groter kans om betrokke te raak by kriminele aktiwiteite later in hul lewe. Faktore wat tot boeliegedrag bydra, sluit in ’n gebrek aan dissipline by die huis, gesinsprobleme, lae selfbeeld en ’n  behoefte aan mag en beheer oor ander.

“Boelie vind wel plaas in skole, maar daar is ’n wanpersepsie van wat boelie werklik is. Dit is noodsaaklik dat alle partye, waaronder kinders, onderwysers en ouers, bewus gemaak word van wat presies boeliegedrag is. Dit help baie wanneer kinders dit van kenners hoor en nie net van onderwysers nie. Dit is ook noodsaaklik dat leerders geleer word hoe om op te tree teenoor boelies. Aangesien ons ’n christelike skool is, is dit wonderlik om vanuit die Bybel vir kinders te leer hoe om boelies te hanteer,” sê Annatjie de Kock, graad 7-onderwyser aan die Laerskool Krugerpark.

AfriForum bemagtig skole landwyd met die Teenboelieveldtog vir die afgelope sewe jaar deur hoop te skep en om kinders aan te moedig om mekaar met die nodige wedersydse erkenning en respek te hanteer.

“Dit is vir AfriForum belangrik dat leerders die teenboelieveldtog-praatjie bywoon wat gebaseer is op die volle wapenrusting van God, omdat hulle dit kan gebruik om boeliegedrag hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Na afloop van die praatjie weet elke leerder hoe om boeliegedrag te identifiseer en hoe om dit stop te sit. Dit is van kardinale belang om leerders op ’n jong ouderdom met die vaardighede toe te rus om dus gevare in die toekoms te voorkom,” sê Tania Scheepers, AfriForum se projekassistent vir onderwys.

Vir meer inligting oor AfriForum se Teenboelieveldtog en om die teenboelie- en kuberboeliegids gratis af te laai, besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings