| |

AfriForum bewillig fondse vir restourasie van Heldeakker in Pretoria

Op die vooraand van die herdenking van Paul Kruger se verjaarsdag (10 Oktober), het AfriForum aangekondig dat dit ’n skenking van R10 000 bewillig het vir die opknapping van die Heldeakker-begraafplaas in Pretoria.

Dit volg nadat AfriForum se Noord van die berg-tak amptelik toestemming van die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit gekry het om hierdie historiese terrein weekliks op te knap. Die takvoorsitter en geskiedenisentoesias, Quentin Meyer, het ’n Adopt-a-Spot-kontrak met die Tshwane-metro gesluit om die Heldeakker-begraafplaas aan te neem en reg te ruk.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, word die tak se reusetaak ondersteun met hierdie bydrae omdat die Heldeakker omvattende restourasie en instandhoudingswerk vereis. “Die tak het reeds berge versit, maar veel meer moet nog gedoen word voordat die terrein tot sy eertydse glorie herstel sal wees,” sê sy.

Verskeie Afrikanerlegendes is daar begrawe, insluitend Andries Pretorius, Paul Kruger, Jopie Fourie en Eugène Marais. “Daar is ’n gesegde wat lui dat ’n gemeenskap geken word aan die respek waarmee dit die finale rusplek van sy helde hanteer en daarom voel AfriForum dat dit ons ereskuld is om hierdie projek op alle moontlike maniere te bevorder. In die onlangse verlede het die terrein groot skade as gevolg van onder meer vandalisme en sluipslapery gely. Dit was onveilig om daarheen te gaan. Hopelik kan die skade omgekeer word en kan mense in die toekoms met vrymoedigheid daar besoek aflê,” voeg sy by.

Op 10 Oktober 2023 bied die Krugergenootskap ’n program aan om Paul Kruger se geboortedag te herdenk. Dit sluit ’n kranslegging by sy graf in, waaraan AfriForum en AfriForum Jeug ook sal deelneem.

AfriForum doen ’n beroep op enige instelling of individu wat op welke wyse ook al by die projek betrokke wil raak, om van hulle te laat hoor.

Soortgelyke plasings