|

AfriForum Springs-tak rig aanmaning aan Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit

AfriForum se Springs-tak het op 9 Februarie hul regspan opdrag gegee om ’n brief aan NERSA (Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika) en die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit te oorhandig om die voortslepende kwessies rakende elektrisiteitsvoorsiening op te los.

Dit volg nadat Springs en ander dorpe wat onder die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit val erge kragonderbrekings ervaar weens swak onderhoud van die infrastruktuur.

AfriForum se regspan het die aanmaning aan NERSA gerig aangesien die munisipaliteit nie aan die minimum standaarde, volgens hulle wetgewende kontraktuele verpligtinge, voldoen soos deur die lisensie verskaffer se minimum voorwaardes gestipuleer is nie.

“Dit is vir ons onaanvaarbaar dat swak bestuur en onderhoud van infrastruktuur die inwoners van Springs en groot dele van die Oos-Rand vir ure aaneen in die donker laat as gevolg van faktore wat nie aan beurtkrag gekoppel is nie. Dít plaas ongelooflike druk op die gemeenskap en ondernemings. Ons dring daarop aan dat NERSA die munisipaliteit verantwoordelik hou en ’n werkbare en volhoubare plan opstel en beskikbaarstel oor hoe hulle beplan om dié swak dienslewering en instandhouding te hanteer,” sê Jurie Ferreira, distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

AfriForum sal verdere regstappe oorweeg indien NERSA en die munisipaliteit nie hul wetlike verpligtinge nakom nie.

Om betrokke te raak, of om aan te sluit: SMS “Springs“ na 45340 (R1) en word deel van die oplossing.

Soortgelyke plasings