|

AfriForum-tak in Klerksdorp woeker met #OnsDorp-projek

AfriForum se Klerksdorp-tak het op 29 Oktober die tweede fase van die #OnsDorp-projek in Murantiweg afgehandel. Die area vanaf Buffeldoornpad tot by Boekenhoutweg se gras is aan beide kante gesny, bome is gesnoei en vullis is verwyder. In hierdie fase is daar op opruiming van die die woongebied se Buffeldoornpad-ingang gefokus. Die span van 12 werkers, ’n trekker met ’n grassnyer en ’n vragmotor en sleepwa met tuingereedskap het die hele Saterdag gewerk om die sypaadjie van 1,2 kilometer, wat nagenoeg ’n area van 4,2 ha beslaan, op te ruim. 

Die tak het ook vier stoptekens aan die Doringkruin-buurtwag geskenk wat hulle by die besige kruising van Muranti- en Boekenhoutstraat aangebring het. Met die opruiming  is daar verskeie oop riool- en stormwatermangate gevind. Die gate is baie diep en hou ’n wesenlike gevaar vir mens en dier wat die sypaadjie gebruik, in. Die AfriForum-tak sal ’n formele versoek aan die munisipale bestuur rig om die mangate veilig te maak.

In die volgende fase gaan daar met die algemene onderhoud van die woongebied begin word. Die beplanning is om die area vanaf die Muranti- en Boekenhoutkruising tot by Apiesdoringlaan op te ruim. Die sukses en volhoubaarheid van die #OnsDorp-projek is afhanklik van steun van inwoners, ondernemings en diensorganisasies. Die ideaal is dat almal saamwerk om ’n skoon en veilige omgewing te skep.

Die inwoners van Doringkruin sal in kennis gestel word wanneer die volgende fase aangepak gaan word. Die AfriForum-tak en die Doringkruin-buurtwag sal vir ’n gazebo, tafel en stoele, mediese toerusting, water en verversings sorg. Ondernemings en organisasies is welkom om ’n gebied af te baken waarvoor hulle in die toekoms verantwoordelik sal wees, en hulle vlag daar te kom plant.

“Dit is betreurenswaardig om te sien hoe inwoners self tuin- en ander vullis daar gestort het. Dit is ’n kriminele oortreding om vullis te stort. Daar is ’n versoek aan die buurtwag gerig om deur die kameramoniteringsisteem inligting van onwettige stortings deur te gee. Inwoners kan ook rommelstorting rapporteer deur foto’s te neem en aan ons te stuur. Die tak sal strafregtelike klagtes indien, sou daar genoegsame bewyse wees,” sê Frans Roos, voorsitter van AfriForum se Klerksdorp-tak.

“Dit is lekker om te sien dat inwoners eienaarskap van hulle omgewing neem. Daar sal egter beslis en ferm opgetree moet word teen inwoners wat al die goeie werk ongedaan maak deur vullis te stort. Ek hoop werklik dat die ander woonbuurte in Klerksdorp met dié AfriForum-tak kontak sal maak, sodat soortgelyke projekte oral in die stad geloods kan word,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Inwoners wat wil deelneem en bydra of soortgelyke #OnsDorp-projeke in hulle woongebiede wil loods, kan Frans Roos kontak by 083 378 8826.

Word deel van die oplossing: SMS “Klerksdorp” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings