|

Hartbeesfontein-buurtwag ondersteun groenteprojek

Die saailinge wat AfriForum se Hartbeesfontein-buurtwag in Julie aan die SAVF Evanna Tehuis geskenk het, het al groente gedra wat nou deur dié tehuis aangewend word. Die buurtwag het ook organiese bemesting aan die tehuis geskenk.

Die bestuur en inwoners van die tehuis het die saailinge ná die skenking dadelik in hulle kweektonnels geplant en dit het mooi gegroei. Voldoende water en gewillige inwoners het gehelp met die plant en natmaak van die groentetuin. Spinasie, kruie, uie, kool, boontjies, beet en wortels is reeds aangeplant. Daar word ook beplan om ander groente asook vrugtebome soos appelkoos- en kweperbome aan te plant vir inmaak en konfyt.

Die buurtwag en die bestuur van die tehuis beplan om die groenteprojek uit te brei om sodoende meer selfvoorsienend te raak. Die opbrengs van die groentetuin gaan aan die tehuis se kombuis wat dit verwerk. Indien daar oorskot is, sal dit aan ander diensorganisasies wat behoefte het, geskenk word.

Om die projek volhoubaar en suksesvol te kry, word skadudoek benodig om die kweektonnels, wat in die onlangse brand beskadig is, te herstel. Om die besproeiingstelsel te verbeter, het hulle 100 m x 20 mm plastiekpyp, mikrospreiers, druppers, krane en klampe nodig. Die plan is om tamaties aan te plant, maar om dit te doen, is draad en pale nodig.  Verder is saailaaie, groeimedium en organiese bemestingstowwe nodig om saailinge te kweek. Skenkings sal baie waardeer word.

Sodra hierdie groenteprojek op dreef is, wil die buurtwag die plaaslike skole betrek sodat hulle kan leer hoe om ’n groentetuin aan te plant en te versorg.

“Die bestuur van die Klerksdorp-tak is baie opgewonde oor dié projek wat die buurtwag begin het. Ons wil almal bedank vir hulle bydrae en ondersteuning. Ons bedank ook die AfriForum-lede en die gemeenskap vir hulle ledegeld, skenkings en ondersteuning met dié projek. Sonder dít sal die projek nie moontlik wees nie,” sê Frans Roos, die voorsitter van die Klerksdorp-tak.

“Hierdie is ’n wonderlike inisiatief van die buurtwag wat baie waardevol vir die tehuis is. Al hierdie tipe instansies trek tans finansieel swaar en hierdie projek verlig nie net die las nie, maar verseker ook dat die inwoners gesonde, vars groente kry om te eet,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

AfriForum se Hartbeesfontein-buurtwag nooi inwoners uit om betrokke te raak en saam te werk om ’n mooi en veilige omgewing te skep. Vir meer inligting om by die projek betrokke te raak, kontak Theresa Swart by 060 325 5345. Gemeenskappe wat soortgelyke projekte wil begin, kan Frans Roos by 083 378 8826 kontak.

Word deel van die oplossing: SMS “Klerksdorp” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings