|

AfriForum-tak in Viljoenskroon maak aanbevelings vir Moqhaka se GOP

Die AfriForum-tak in Viljoenskroon het kommentaar op die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) van die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit ingedien en aanbevelings gemaak waarvoor die munisipaliteit moet begroot. Luidens die webtuistes “National Treasury” en “Municipal Money” is die munisipaliteit gemaan om eiendomsbelasting in te vorder en aan te wend waarvoor dit bedoel is. Vrugtelose en verkwiste uitgawes moet tot die minimum beperk word.

Die tekortkominge in Viljoenskroon, waarvoor die munisipaliteit moet begroot is:

  • Die paaie wat in ’n haglike toestand is, veral hoofpaaie soos Engelbrecht-, Viljoen-, Piet Retief- en Steynbergstrate.
  • Padmerke en verkeerstekens ontbreek, wat dit veral vir vreemdelinge in die dorp baie onveilig maak om die paaie te gebruik.
  • Die munisipale sportterrein wat in totale verwaarlosing is en ’n tuiste bied vir sluipslapers, kriminele, dwelmhandelaars en onwettige rommelstrooiery.
  • Die waternetwerk omdat daar dikwels watertekorte in die dorp is en die netwerk verouderd is en daar dikwels waterlekke is wat nie vinnig herstel word nie. Die waternetwerk moet opgegradeer word, want daar is nou baie meer inwoners as toe dit ontwerp is. Daar moet ook vir die instandhouding van die waternetwerk begroot word. Die reservoirs moet vergroot word. Daar moet ook begroot word om die water genoegsaam te behandel, want die waterkwaliteit is dikwels nie goed nie.
  • Die rioolwerke moet in werkende toestand gebring word. Daar moet ook begroot word vir toerusting om rioollekke vinnig en doeltreffend te herstel.
  • Die vullisterrein moet voltooi word dat daar ’n plek is om vullis af te laai sodat die onwettige rommelstrooiery kan stop. Die vullisverwyderingstrok moet in stand gehou word sodat vullis gereeld verwyder kan word.
  • Die begraafplaas moet behoorlik omhein word en netjies gehou word. Die AfriForum-tak het intussen die begraafplaas netjies gemaak. 
  • Die elektrisiteitsnetwerk moet opgegradeer word en substasies moet bewaak word om vandalisme hok te slaan.

Daar word aanbeveel dat die munisipaliteit hierdie aanbevelings in die begroting moet vervat  sodat die fondse beskikbaar kan wees om aan hierdie sake aandag te gee.

“Ons hoop werklik dat die munisipaliteit gehoor sal gee aan die tak se aanbevelings vir die begroting, daarvoor sal begroot en die fondse sal gebruik vir die saak waarvoor dit begroot is. Ons verstaan dat die verval nie in een jaar reggeruk sal kan word nie, maar daar moet begin word daarmee, anders sal daar nooit vordering wees nie. AfriForum sal kyk wat in die begroting aangebring word en die munisipaliteit tot verantwoording roep,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Indien jy wil betrokke raak by die Viljoenskroon-tak, kontak vir Attie Barnard by 082 557 1428.

Soortgelyke plasings