| |

AfriForum staan NGV-wetsontwerp teen in Suid-Kaap

AfriForum-verteenwoordigers het die openbare verhore vir die beoogde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) wat op 18 en 19 September in onderskeidelik Beaufort-Wes en George gehou is, bygewoon om mondelingse kommentaar hieroor in te dien.

Volgens AfriForum is die wetsontwerp geheel en al onrealisties en onprakties. Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, het in AfriForum se kommentaar by dié twee verhore gewys op etlike belangrike bekommernisse wat AfriForum ten opsigte van die wetsontwerp het, naamlik die gebrek aan besonderhede oor hoe die NGV geïmplementeer sou kon word, wat dit sou kos en wie dit sou bestuur. Daarbenewens meen AfriForum sal die beoogde finansiering van die NGV ’n onhoudbare las op belastingbetalers plaas.

“Die regering moet eerder eerstens op ekonomiese groei fokus en die probleme in die huidige gesondheidstelsel takel as om te poog om ’n program soos die NGV van stapel te laat loop. Die geld wat tans hieraan spandeer word, kan veel eerder op die regruk van bestaande openbare hospitale bestee word,” verduidelik Erasmus.

AfriForum waarsku dat die NGV ’n duur fout kan wees, wat geen verbetering aan Suid-Afrika se gesondheidstelsel sal maak nie en dat dit eerder die gesondheidstelsel sal lamlê. Die meerderheid van beskikbare navorsing en ontleding toon dat die NGV ’n peperduur en vernietigende mislukking gaan wees.

“Ons versoek dat die Nasionale Raad van Provinsies die wetsontwerp sal verwerp voordat dit tot die verwoesting van gesondheidsorg in Suid-Afrika lei,” sluit Erasmus af.

Soortgelyke plasings