AfriForum versoek ooreenkomste tussen Eskom en agterstallige munisipaliteite

AfriForum versoek dat die onderskeie ooreenkomste tussen Eskom en agterstallige munisipaliteite bekend gemaak word ten einde te voorkom dat die elektrisiteit van talle dorpe afgesluit word. Hierdie aansoek word ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (PAIA) (Wetno. 2 van 2000) ingedien.

“Ons wil bepaal of hierdie ooreenkomste tot voordeel van die gemeenskap is en dit is die gemeenskap se reg om te weet wat daarin vervat is,” sê Morné Mostert, plaaslikeregeringskoördineerder van AfriForum.

AfriForum wil ook weet wat die skuldvlakke van al die agterstallige munisipaliteite ten opsigte van hul Eskom-rekeninge is. Hierdeur kan gemeenskappe in die posisie gestel word om regsaksies teen die betrokke munisipaliteite van stapel te stuur.
AfriForum het ’n regsfonds geskep waar die publiek spesifiek ’n bydrae tot die Eskom-regstryd, wat daarop gemik is om munisipaliteite tot orde te roep, kan maak.
Verder verwelkom AfriForum Lynne Brown, minister van Openbare Betrekkinge, se versoek dat die kragvoorsiener die afsny van agterstallige munisipaliteite se krag, sal uitstel. Die burgerregtewaghond gaan egter voort met litigasie waar nodig.
 

Soortgelyke plasings