|

Aitsa! Afrikaanse musiek is lekker

Afrikaanse kunstenaars in die musiekbedryf is op 29 November tydens die Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings by die Choose Life Church in Moreletapark, Pretoria, vereer vir die bydrae wat hulle tot die Afrikaanse musiekbedryf maak.

Dit is die derde keer dat dié toekenningsaand gehou word en meer as 1 100 mense het hierdie spoggeleentheid bygewoon.

Mimi Coertse, operasanger en legende in die bedryf, is vanjaar vereer vir haar lewenslange bydrae tot die musiekbedryf en die Afrikaanse kunslied. Coertze is die kunstenaar wat die meeste Afrikaanse kunsliedere gesing het waarvan die bekendste en gewildste een S. Le Roux Marais se “Heimwee” is.

“Baie dankie aan Pretoria FM vir dié besondere eerbewys. Ek sal altyd lief bly vir my taal. Ek waardeer hierdie toekenning opreg. Dit is vir my ’n riem onder die hart dat my mense my nog steeds onthou,” het Coertze gesê.

Die wenners van vanjaar se Aitsa Musiektoekennings is:

  • Boeremusiek liedjie van die jaar: Vatvas Dansorkes met “Volstruis Vastrap”
  • Geestelike liedjie van die jaar: Esté Gross met “Hemelruim”
  • Instrumentale liedjie van die jaar: Scheppel met “Toe vind ek jou”
  • Liedjieskrywer van die jaar: Elvis Blue vir “Meer as genoeg”
  • Nuweling van die jaar: Eloff met Johnnie Blou
  • Musiekvideo van die jaar: Johan C Venter en Eric T Graham vir “Vat ’n bietjie” gesing deur Riaan Benadé
  • Alternatiewe/Rock liedjie van die Jaar: Spoegwolf met “Vergeet”
  • Vervaardiger van die jaar: Murray Lubbe vir “Vrystaat Vlaktes” gesing deur Reën
  • Popliedjie van die jaar: Ricus Nel met “Ploeg jy”
  • Luisterliedjie van die jaar: Corlea Botha met “Haat”
  • Afrikaanse liedjie van die jaar: Jo Black en Refentse se “Rig jou oë na die berge”
  • Kunstenaar van die Jaar: Demi Lee Moore

Irene Louise van Wyk met “Tekkies brand” en Riaan Benadé met “Rowwe bliksem” het met die toekenning in die kategorie vir die Suksesvolste Afrikaanse liedjie deur ’n vroulike en manlike kunstenaar weggestap.

Volgens Benadé is hierdie toekenning vir hom ’n groot eer. “Ek het nie in my wildste drome gedink dat ek ná die inperking die twee besigste jare van my lewe gaan hê nie. Ek is so geseënd. Op die ou end is dit ’n groot eer om te kan sê dit is moontlik danksy die gesin waarin ek grootgeword het. Ek het van kleins af geleer dat die pad wat ons moet stap die een is wat naby aan jou Skepper is. Ek dink nie dit sou enigsins moontlik gewees het om te wees waar ek vandag is nie as dit nie was vir die pad wat ek saam met my Skepper gestap het nie. Baie dankie ook aan elkeen wat my musiek ondersteun en luister.”

Daar is ook vanjaar in samewerking met Solidariteit Helpende Hand se Wes-Moot-tak en Pretoria FM Kersgeskenke ingesamel vir bejaardes in munisipale aftreeoorde in dele van Pretoria.

“Dit is ’n voorreg om op hierdie manier terug te ploeg in die gemeenskap. Baie dankie aan elkeen wat bygedra het dat bejaardes se feesseisoen meer rooskleurig gaan wees,” sê Willie Spies, voorsitter van die Aitsa Trust.

Volgens Spies is daar geen twyfel dat die Aitsa Musiektoekennings net soos Afrikaans, hier is om te bly nie. Daarom sal die Aitsas weer aanstaande jaar aangebied word en sal dit saamval met die 30 jaar feesvieringe van Pretoria FM in September 2023.

Soortgelyke plasings