|

AfriForum se traumaeenheid kyk dankbaar terug na 2023

AfriForum se traumaeenheid het vanjaar duisende kilometer afgelê om die 852 volwassenes en 64 kinders wat slagoffers van misdaad was, te ondersteun. Die traumaeenheid het 32 hofsake bygewoon om daar te wees slagoffers. Hierdie eenheid bestaande uit vier mense stap ’n persoonlike pad met slagoffers sodat hierdie moeilike gebeurtenisse verwerk kan word.

Dit behels berading, ondersteuning op die toneel, voorbereiding wanneer verdagtes in die hof verskyn en die slagoffers moontlik moet getuig, asook ondersteuning ná die hofsake uiteindelik afgehandel is.

Die eenheid bestaan uit Hennie Human (traumaberader), Izel Kruger (kantoor- en projekkoördineerder), Johan Kloppers (traumaberader) en Magda Coetzee (traumaberader).

Omdat die traumaberaders nie altyd direk ná afloop van ’n misdaad of traumatiese gebeurtenis by slagoffers kan wees het, het die eenheid vrywilligers opgelei om te help. Vanjaar is byna 30 nuwe vrywilligers opgelei en dié eenheid spog nou met 80 vrywilligers regoor die land.

Volgens Kloppers wat vanjaar slagoffers in die hof ondersteun het in vier afsonderlike plaasaanvalsake waar die aanvallers gevonnis is, gaan die plaasmoord van Andries Nieuwoudt hom nog lank bybly. “Ilze Nieuwoudt (skoondogter), wat een van my kollegas is, het my die oggend van 24 Desember 2020 gekontak. Ek het vandat ek hulle drie dae later ontmoet het die lang pad saam met hulle gestap totdat die aanvallers vanjaar gevonnis is.”

Vir Human was daar vanjaar ’n oorwinning wat vir hom selfs die Springbokke se sege oortref het. Hy vertel dat ’n vrou ná ’n baie gewelddadige plaasaanval vir minstens ses maande nie op die plaas kon kom nie en dat sy baie angstig was as hulle plaas toe moes gaan om die dorpshuis gereed te maak. “Met een van my besoeke sê die boer hulle gaan my by die plaashek ontmoet. Toe ek daar aankom sit sy agter die bakkie se stuur en haar man langs haar. Net toe ek agter hulle stilhou, trek sy weg en ry die plaashek binne tot by die huis en hiermee het sy haar angs vir die plaasaanvallers oorkom,” sê Human.

“Ek dink spesifiek aan ’n pappa wat geskiet is en ’n mamma en haar dogters (agt en tien jaar oud) wat alleen agterbly. Ek dink ook aan die ongelooflike dankbaarheid wat daar is dat daar iemand is wat omgee en seerpad saam met hulle stap so lank as wat dit nodig is,” sê Coetzee. Vir haar gaan die vernietigende brande en die boere aan wie hulle berading gebied het, haar ook bybly.

“Dit is ’n geseënde voorreg om slagoffers te ondersteun en daar te wees wanneer iemand jou nodig het,” sê sy.

Kloppers noem dat hy in dankbaarheid terugkyk na elkeen wat sy pad gekruis het. Hy sê die waardering wat mense het wanneer hulle besef hulle hoef nie hierdie traumatiese gebeurtenis alleen te verwerk nie, is iets wat geld nie kan koop nie.

Vir baie mense wat geliefdes aan die dood afgestaan het, is Coetzee se raad om vas te hou aan God. “Kyk op en weet daar is altyd hoop. Daar is iemand wat omgee. Deur Genade word die seer ligter en leer ons om kognitief anders daaroor te dink.”

“Kerstyd is ’n moeilike tyd, veral as ons na geliefdes verlang wat nie meer by ons is nie of kinders in die buiteland het of selfs net as jy ’n moeilike jaar gehad het. My raad sal wees om jou nie af te sonder nie, maar eerder vriende op te soek. Moenie fokus op dit wat jy verloor het of nie het nie, maar dink aan die mooi herinneringe en maak ’n hoekie van herinnering,” is Human se raad.

Die traumaeenheid het behalwe dat hulle slagoffers ondersteun het, ook ’n fondsinsamelings- en bewusmakingsprojek gehou. R79 250 is tydens ’n aanlyn veiling ingesamel ten bate van hulle slagofferondersteuningsfonds.

Dan is vanjaar se Hardloop vir Hoop ook in die Wes-Kaap aangebied en 250 mense het op die Vredenheim Wynplaas aan die 5 km- en 10 km-pretloop deelgeneem.

Stuur ’n e-pos na trauma@afriforum.co.za vir meer inligting oor AfriForum se traumaeenheid.

Soortgelyke plasings