| |

Belangrike moets en moenies rondom watergebruiklisensies

Onkunde oor die regte en verpligtinge ten opsigte van watergebruike in die land kan ’n mens in die pekel laat beland.

Hierdie artikel is deur kundiges van die maatskappy IWULA Integrated Water Use License Application Management (Pty) Ltd, in kort IWULA, geskryf om boere te help om die betrokke wetgewing, regulasies en watergebruik-aansoekprosesse beter te verstaan.

Registrasie, in teenstelling met goedkeuring van watergebruik kan verwarring veroorsaak en ’n baie groot kopseer wees.

Oor die algemeen bestaan daar ’n groot wanpersepsie onder boere dat ’n afskrif, sertifikaat of enige ander dokumentasie wat uitgereik is deur die Departement van Water en Sanitasie (DWS), wat ’n registrasie van watergebruike aandui, watergebruik wettig. Die werklikheid is egter dat ’n suksesvolle registrasie van watergebruik nié ’n bewys van wettige watergebruik is nie, maar slegs ’n bewys is dat die DWS bewus is daarvan. Daar is fynskrif op elke registrasiesertifikaat wat aandui dat die sertifikaat nie gebruik mag word om die indruk te skep dat dit ’n wettige dokument is wat ’n wettige reg tot die water aandui nie.

Verder is daar ’n wanpersepsie dat slegs die onttrekking van water (uit boorgate, riviere ens.) goedgekeur moet word deur die DWS. Daar is egter verskeie ander aktiwiteite op ’n tipiese plaas waarvoor goedkeuring ook nodig mag wees, soos aktiwiteite wat moontlik water kan besoedel, sowel as aktiwiteite wat plaasvind binne sekere afstande van waterbronne af.

Die oorhoofse watergebruik in die landbousektor wat goedgekeur moet word sedert Augustus/September 1998 en nog steeds aan registrasie onderworpe is ingevolge Artikel 21 van die Nasionale Waterwet is hoofsaaklik: 

  • Die onttrekking van grond- of oppervlakwater;
  • Die opgaar van water in ’n dam;
  • Aktiwiteite wat die vloei van water in ‘n rivier of spruit belemmer, of dit herlei, of ’n rivier of spruit se bedding, walle, loop of kenmerke daarvan verander;
  • Stroomvloeiverminderingsaktiwiteite (bosbou);
  • Besproeiing met behandelde afval water;
  • Die storting van afvalwater in ‘n waterbron deur middel van enige waterafvoerinfrastruktuur; en
  • Die ontslae raak van afvalstowwe of afvalwater op ‘n wyse wat ‘n nadelige impak op grond- of oppervlakwater kan hê.

Daar is dus verskeie watergebruike wat op ’n plaas goedgekeur moet wees. Dit beteken egter nie dat elke watergebruik sy eie algemene magtiging of watergebruik- lisensie moet hê nie. Die DWS verwerk gewoonlik al die aktiwiteite in een aansoek en reik dan een geïntegreerde goedkeuring vir die plaas uit.

Alles wat met wettige watergebruik te make het, begin by die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998). Die doel van die wet deur middel van die nasionale regering en die aangewese minister wat as openbare trustee optree, is om te verseker dat die samelewing se waterbronne op ‘n volhoubare en billike wyse, tot voordeel van alle persone en in ooreenstemming met die grondwetlike mandaat, beskerm, gebruik, ontwikkel, bewaar, bestuur en beheer word.

Derhalwe moet die DWS, as verantwoordelike beskermer van waterbronne, die watergebruik reguleer deur middel van goedkeuring vir watergebruik. Of dit nou deur bestaande wettige permitte, watergebruiklisensies, of deur algemene magtigings is, die goedkeuringprosesse is ’n meganisme om die regeringsdoelwitte en mandate te help deurvoer.

Enige nuwe watergebruik ná Augustus/September 1998 moet ingevolge Artikel 21 van die Nasionale Waterwet gelisensieer word.

Sonder die nodige goedkeuring in plek kan die DWS Artikel 151 van die Nasionale Waterwet toepas wat bepaal dat enige persoon wat enige bepaling van dié artikel oortree, skuldig is aan ‘n misdryf en aanspreeklik gehou sal word op die eerste skuldigbevinding, met ‘n boete en/of gevangenisstraf vir ‘n tydperk van hoogstens vyf jaar. In die geval van ’n tweede of daaropvolgende skuldigbevinding kan ’n oortreder ‘n boete en/of sodanige gevangenisstraf vir ’n tydperk van hoogstens tien jaar opgelê word.

Wat behels die bestaande wettige watergebruik en algemene magtiging registrasieproses of aansoekproses vir ’n waterlisensie en hoe lank neem dit?

Enige nuwe watergebruik ná Augustus/September 1998 moet ingevolge Artikel 21 van die Nasionale Waterwet gelisensieer word, behalwe as die watergebruik ingevolge Skedule 1 toelaatbaar is; of die watergebruik ‘n voortsetting is van ‘n bestaande wettige gebruik; of indien daardie watergebruik toelaatbaar is ingevolge ‘n algemene magtiging; of indien die DWS van ‘n lisensievereiste afgesien het.

‘n Aansoek om ’n watergebruiklisensie, algemene magtiging of bestaande wettige watergebruik-registrasieprosesse is berug dat dit kompleks is, hoewel dit op die oog af eenvoudig lyk. Die aansoekprosesse moet sorgvuldig bestuur word om ’n suksesvolle resultaat en uitslag te kry.

Wanneer daar na ‘n watergebruik-lisensieaansoek verwys word, behels dit gewoonlik aktiwiteite wat ‘n meer beduidende impak op waterbronne het; terwyl ‘n  algemene magtiging registrasieproses aktiwiteite met minder impakte op waterbronne behels; ‘n bestaande wettige watergebruik-registrasieproses behels gewoonlik die verifikasie van bestaande watergebruike wat onder vorige wetgewing voor 1998 toegelaat is. ’n Skedule 1-watergebruik is basiese huishoudelike en nie-kommersiële gebruike en benodig geen aansoekproses nie, maar moontlik bevestiging indien daar enige twyfel bestaan. Watter proses ook al gevolg word, moet in samewerking met die DWS bevestig word.

Verder, tydens die aansoekproses sal die voorgestelde of bestaande Artikel 21- watergebruike in samewerking met die DWS bevestig en geassesseer word om ‘n duidelike pad vorentoe te bepaal in terme van wat vereis sal word om wetlik aan die Nasionale Waterwet te voldoen. Dit wil sê, watter administratiewe sowel as spesialisondersoekvereistes nagekom moet word.

Dit is gewoonlik die Applikant/Kliënt wat IWULA nader en dan word daar begin met die insameling van agtergrondinligting om sodoende die Artikel 21-watergebruike te identifiseer asook die hoeveelheid aansoek komponente te bepaal om sodoende vir die applikant ’n begroting uit te werk.

IWULA doen ook ’n regulatoriese assessering van die watergebruike en adviseer die kliënt dan ook rondom die wettige aspekte en prosesse wat gevolg moet word. ’n Reeks algemene magtigingsregulasies vir die Artikel 21-watergebruike is in die Staatskoerant gepubliseer wat gebruik word as maatstaf en om aansoeke effektief te bestuur en die applikant te help met besluitneming. 

Sodra die Artikel 21-watergebruike vasgestel is, word ’n voor-aansoekkonsultasiebespreking met die DWS gehou. Dit kan telefonies, virtueel, per e-pos, of op ’n betrokke terrein geskied. Die doel hiervan is om die Artikel 21- watergebruike te bevestig, en baie belangrik, om die spesialisondersoekvereistes te bepaal. Dan word kwotasies vir die nodige spesialisondersoeke gekry en IWULA tree dan ook dikwels op as projekbestuurders. IWULA is dus die skakel tussen die DWS, die aansoeker en die spesialiste.

IWULA gebruik dan ook die administratiewe inligting deur die applikant verskaf  en stel watergebruikkaarte saam; skryf verslae; koördineer spesialisondersoekverslae in lyn met regulatoriese vereistes; voltooi die aansoekvorms;  stel die hele aansoek saam en dien dit dan namens die applikant in. IWULA volg dan die aansoek op totdat die lisensie, algemene magtiging of bestaande wettige watergebruik deklarasie uitgereik word.

Afhangend van die tipe magtigingsproses wat aangepak word en die gevolglike wettige vereistes, asook die samewerking tussen applikant, konsultant en die DWS, kan so ’n proses van begin tot einde enigiets van een maand tot 12 maande duur en in sommige gevalle veel langer. Met betrekking tot waterlisensie-aansoeke is die nuutste bepalings van die DWS om die aansoek te finaliseer binne 90 dae na die aansoek ingedien is, en vir algemene magtigings is dit een of twee maande. Dus, die onus is hoofsaaklik op die applikant en konsultant, maar ook op die DWS-beamptes om aan alle aansoek- en registrasievereistes te voldoen so spoedig en effektief moontlik tot en met indiening.  

Wat is die tipiese administratiewe inligting wat die DWS van my sal verlang?

  • ’n Magtigingsbrief vir die konsultant om die watergebruikaansoekproses te loods namens die applikant;
  • ’n Afskrif van die identiteitsdokument van die aansoeker of verteenwoordiger wat die watergebruikaansoek sal onderteken;
  • ’n Afskrif van ’n besigheids- of trustregistrasiesertifikaat soos van toepassing;
  • ’n Toestemmingsbrief indien die aansoeker nie die eienaar van die eiendom is nie;
  • ’n Afskrif van die titelaktedokument; toestemming om te okkupeer; huurkontrak; gemeenskapsbesluit; serwituutaktes en toegangsooreenkomste, wat ook al van toepassing mag wees;
  • Waar van toepassing, moet ’n bewys van aanvaarding van ‘n aansoek om ‘n omgewingsmagtiging verskaf word kragtens die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur.

Wat is die moontlike spesialisstudies wat waterwese kan verlang as deel van my aansoek?

Die regulasies rakende die prosedurele vereistes vir watergebruiklisensieaansoeke asook die appèlprosedures is gepubliseer in die Staatskoerant onder algemene kennisgewing regulasie nommer 267 (GG40713 & GN267) op 24 Maart 2017. ’n Reeks algemene magtigingregulasies vir die Artikel 21-watergebruike is ook in die Staatskoerant gepubliseer.

IWULA val altyd terug op die regulasies as grondslag en maatstaf, maar IWULA neem ook leiding van die DWS en pas ook ons eie praktiese ervaring toe, om die prosesse so effektief moontlik te bestuur en die applikant te help met besluitneming.

Tesame met ’n Artikel 21-watergebruiklisensieaansoek, en selfs met ’n algemene matigingregistrasie, kom daar sekere spesialisvereistes. Die DWS kan wegdoen met sekere vereistes en spesialisvereistes byvoeg. ’n Fundamentele aksie is om die Artikel 21-watergebruike so akkuraat as moontlik te bepaal wat dan weer op sy beurt die spesialisvereistes te bepaal. Afhangend van die Artikel 21-watergebruike wat geïdentifiseer word, is die spesialisvereistes dikwels geskoei rondom die oorhoofse dissiplines van geohidrologie; hidrologie; akwaties/rivier/vleilande; hidropedologie en ingenieursdienste.   

Die volgende tipiese watergebruike vir landboupraktyke kan aanleiding gee tot die aangeduide spesialisondersoeke. Let wel dat  ingenieursdienste in die algemeen met die meerderheid watergebruike gepaard gaan:

  • Die onttrekking van grond- of oppervlakwater – Geohidrologie en/of hidrologie;
  • Die opgaar van water in ’n dam – Ingenieursdienste;
  • Aktiwiteite wat die vloei van water in ‘n rivier of spruit belemmer of dit herlei; en/of aktiwiteite wat ’n rivier of spruit se bedding, walle, loop of kenmerke daarvan verander – Akwaties-/Rivier-/Vleiland-spesialis;
  • Stroomvloeiverminderingsaktiwiteite (bosbou) – Hidrologie;
  • Besproeiing met behandelde afval water – Geohidrologie en laboratoriumdienste;
  • Die storting van afvalwater in ‘n waterbron deur middel van enige waterafvoer- infrastruktuur –  Akwaties-/Rivier-/Vleiland-spesialis en laboratoriumdienste; en
  • Die ontslae raak van afvalstowwe of afvalwater op ‘n wyse wat ‘n nadelige impak op grond- of oppervlakwater kan hê – Geohidrologie en Ingenieursdienste.

Nadat lisensies en algemene magtigingsertifikate uitgereik is, moet dit ook geoudit word soos gestipuleer, om die watergebruike verder te reguleer.

Wat sal die totale koste van so algemene magtiging of waterlisensieaansoekproses wees?

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Waterwet word deur die internasionale watergemeenskap as een van die mees progressiewe stukke waterwetgewing in die wêreld beskou, maar die aansoekprosesse is kompleks, tydrowend en na gelang die DWS se vereistes, soms onvoorspelbaar.

Die DWS steun op spesialiste om wetenskaplikgegronde data te verskaf om die DWS te bemagtig om besluite te neem. Die prosesse neem tyd en kos geld, daarom is dit noodsaaklik om die kosteberamingsproses saam met die applikant deur te gaan om die mees koste effektiewe roete te volg. Met kundigheid en ervaring kan boere bygestaan en gehelp word met watersekuriteit en volhoubaarheid wat hul gemoedsrus sal gee.

Kan ek self aansoek doen of is dit beter om ’n kundige te gebruik?

Enige persoon kan ’n watergebruikaansoek loods, maar dikwels kom klop ’n kliënt by IWULA aan om te help met prosesse wat kompleks en oorweldigend is. Dit is raadsaam om eerder van kundige konsultante gebruik te maak om frustrasies te beperk en tyd en kostes te spaar. 

Vir hoe lank is ’n algemene magtiging of waterlisensie geldig en hoe word dit hernu as dit verval het?

’n Reeks algemene magtigingsregulasies vir die Artikel 21-watergebruike is gepubliseer in die Staatskoerant en daarmee saam die tydperk wat gekoppel is aan ’n betrokke algemene magtiging. Daar is tans geen geldigheidstydperk gekoppel aan afvalstof- en afvalwater verwante gebruike nie. Alle watergebruike wat ’n impak het op riviere/spruite/vleilande is tans geldig tot Augustus 2036; en die onttrekking en opgaar van water is tans geldig tot September 2036.

’n Watergebruiklisensie aan die ander kant kan vir ’n heelwat langer tydperk geldig wees afhangend waarvoor die applikant aansoek gedoen en gemotiveer het. In IWULA se ervaring kan ’n lisensie tot 40 jaar geldig wees.

‘n Lisensiehouer kan voor die vervaldatum van ‘n lisensie by die DWS aansoek doen vir die hernuwing of wysiging van die lisensie. Die hernuwings- of wysigingsaansoek moet gedoen word volgens die prosedure vir watergebruiklisensieaansoeke soos uiteengesit in die Nasionale Waterwet en beskryf in hierdie artikel.

By die oorweging van ‘n aansoek om ‘n lisensie te wysig of te hernu, moet die DWS dieselfde aspekte in ag neem wat dit in ag moes neem tydens die oorspronklike aansoek. Die DWS kan enige voorwaarde van ’n lisensie deur middel van ’n ooreenkoms met die lisensiehouer wysig.

Vir meer inligting of navrae oor waterlisensies, die aansoek- en ander prosesse kontak Liza Jansen van Rensburg by Liza@iwula.org of by 071-353-9654. Besoek ook www.iwula.org

Soortgelyke plasings