|

DEBATMOTIVERING – WAAROM JY EN JOU SKOOL AAN 2021 SE VIRTUELE DINK OF SINK- ONVOORBEREIDE DEBATSKOMPETISIE MOET DEELNEEM

Deur Ianthe Sipsma

Daar is verskeie skoolaktiwiteite waaraan leerders kan deelneem om geleentheid te kry om te groei. Ek het nog altyd geglo dat debatvoering ’n kombinasie van al die beste kwaliteite bied. Dit leer jou om vernuwend te dink, om ’n argument te vorm, die teenoorgestelde argumente in te sien en dan natuurlik om daaroor te debatteer. In debat is daar geen regte antwoord nie – dit is wat dit so uitdagend en interessant maak. Wat tel, is hoe jy jou argument verdedig. Om die debat te wen, is dan net die kersie op die koek.

Die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie het gewoonlik leerders van verskillende skole regoor Suid-Afrika teen mekaar laat debatteer om te kyk wie as die volgende debatwenners gaan koning kraai. Vanjaar word die kompetisie weer eens weens COVID-19-inperkings aanlyn aangebied. Twee spanne van dieselfde skool moet dus teen mekaar debatteer en hul video gaan dan beoordeel word. Dit beteken dat jy en jou beste vriend, mededebatteerder of selfs broer of suster teen mekaar kan debatteer, wat daarvan ’n lekker interne kompetisie tussen leerders kan maak.

Leerders se dagboeke is gewoonlik propvol gepak met akademiese, kultuur- en sportaktiwiteite. Die Dink of Sink-kompetisie is gerieflik omdat dit slegs een middag van leerders se tyd vereis. Die kompetisie is onvoorbereid, so geen laat aande, maande se voorbereiding of onnodige stres is nodig nie. Leerders hoef slegs as ’n span op te daag, ontvang dan die onderwerp en debatteer lekker. Voor hulle hul oë uitvee, is dit verby. Twee spanne wat teen mekaar debatteer, behoort nie langer as dertig minute te neem nie.

Die Dink of Sink- virtuele debatskompetisie maak dit moontlik om elke leerder se debateringsvermoë te toets en om hul redeneringstegnieke te slyp.

Die debatsonderwerpe toets leerders se algemene kennis te toets, maar leer hulle ook om te debatteer oor onderwerpe waaroor hul passievol voel. Daar is verskeie onderwerpe wat leerders om vernuwend te dink. Moet Donald Trump die Nobel-prys vir vrede ontvang? Behoort skole slegs virtuele klasse aan te bied? Is ongelykheid ’n groter probleem as armoede? Is ruimteverkenning ’n mors van geld?

Ek is van jongs geleer dat elke storie twee kante het – en daar is geen beter manier om debat te verduidelik nie. As jy byvoorbeeld sterk voel oor ruimteverkenning, maar jy moet vir die teenoorgestelde redeneer, leer jy dalk net iets nuuts wat jou anders laat dink. Só toets elke onderwerp jou.

Debat het die vermoë om jou oopkop te hou oor die lewe, jou algemene kennis te verbreed, ander mense se opinies in te sien en jou te leer om op ’n beleefde wyse konflik te hanteer en ander mense van jou standpunt te probeer oortuig.

Soortgelyke plasings