|

Departement van Minerale Hulpbronne en Energie verdoesel NERSA se wanprestasie met onvolledige geïntegreerde hulpbronplan

Die geïntegreerde hulpbronplan (IRP) wat Gwede Mantashe, minister van Minerale Hulpbronne en Energie, in Januarie bekendgemaak het, is onvolledig, ver verwyder van realiteit en poog om die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) se wanprestasie te verdoesel. Só meen die burgerregteorganisasie AfriForum wat sy beswaar vandag as deel van die departement se openbare deelnameproses oor die IRP ingedien het.

Volgens AfriForum maak die plan geen melding van die strategie om verliese en die wanprestasie van munisipaliteite die hoof te bied nie. “Natuurlik wil ons die opwekkingsvermoë van die land laat toeneem. Die privaat sektor kan baie meer en vinniger opwekkingsvermoë skep as wat Eskom kan. Ten spyte van verhoogde opwekkingskapasiteit, moet elektrisiteit steeds herlei word na verbruikers toe. Die wanadministrasie en gebrek aan instandhouding word nêrens in die plan bespreek nie. Dit help nie jy wek meer krag op, maar weens verliese kom dit nie by die eindverbruiker uit nie,” sê Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

NERSA, wat ook aan die minister van Minerale Hulpbronne en Energie rapporteer, moet lisensiehouers reguleer en teregwys wanneer daar nie aan die lisensievoorwaardes voldoen word nie. AfriForum bevraagteken die feit dat hierdie probleem nie in die IRP verwoord word nie. “AfriForum is reeds telkens genoodsaak om die howe te nader om NERSA te dwing om sy verantwoordelikhede in munisipaliteite gestand te doen in gevalle waar die betrokke munisipaliteite nie die vermoë het om die lisensievoorwaardes na te kom nie. In so geval moet dit aan ’n regspersoon oorhandig word wat dit kan doen,” sê Mostert verder.

AfriForum se beswaar oor en voorstelle vir die aanpassing van die IRP kan soos volg opgesom word:

• Fasilitering van privaatsektordeelname: Die IRP skiet tekort daarin om die potensiaal van privaatsektordeelname in energie-opwekking voldoende te benut. AfriForum bepleit maatreëls wat daarop gemik is om meer geleenthede te skep vir die betrokkenheid van die privaat sektor by die opwekking van kapasiteit.
• Verkenning van klein, modulêre reaktors: Gegewe die regering se historiese ondoeltreffendheid in die bestuur van kernkragstasies, stel AfriForum voor dat die IRP die lewensvatbaarheid van klein, modulêre reaktors as ’n alternatiewe energiebron ondersoek. Voorts beveel AfriForum aan dat die wetgewende raamwerk aangepas word om privatisering van dié sektor aan te moedig en privaat maatskappye deel van die beskikbare tegnologieë vir die opwekking van krag te maak.
• Billike vergoeding vir energiebydraes: Dit is noodsaaklik dat die IRP bepalings inkorporeer om billike vergoeding te waarborg vir individue of entiteite wat energie in die netwerk voer. Billike vergoeding stimuleer belegging in hernubare energie-infrastruktuur en bevorder langtermynvolhoubaarheid.
• Regulering van wanadministrasie binne die energiesektor: Dit is noodsaaklik dat NERSA proaktiewe maatreëls het om gevalle van wanadministrasie binne die energiesektor te reguleer en te takel. Dit sluit nie net die versekering van voldoening aan lisensievoorwaardes in nie, maar ook die ondersoek na en regstelling van enige gevalle van wanbestuur, korrupsie of ondoeltreffendheid wat die integriteit en doeltreffendheid van die energievoorsieningsnetwerk ondermyn.
• Oplossing van munisipale infrastruktuurprobleme: Ongelukkig sien die IRP die kritieke kwessie van swak munisipale lisensiehouers en die deurdringende verliese aan munisipale infrastruktuur oor die hoof. AfriForum dring daarop aan dat maatreëls ingesluit word om regulatoriese toesig deur liggame soos NERSA te versterk om voldoening aan lisensievoorwaardes te verseker en sistemiese verliese oor die hele netwerk te verminder.

Soortgelyke plasings