|

AfriForum en boere les Bethal-gemeenskap se dors

Die AfriForum-tak in Bethal en nabye boere is weereens ’n lewensredder vir dié dorpsinwoners wat alweer sonder water sit. Die Bethal-tak voorsien van 14 Maart water aan die inwoners via ’n aantal waterpunte op die dorp en sedertdien is daar alreeds 125 000 liter water beskikbaar gestel.

Die water is afkomstig van Bethal se boeregemeenskap wat met vragmotors en trekkers tenkwaens na die verskillende waterpunte neem. Die aksie word op die boere se eie onkostes gedra. AfriForum koördineer die aksie en het die waterpunte opgerig. Slegs vanjaar het die boere alreeds meer as 600 000 liter water gelewer as gevolg van die water wat met tye gedeeltelik af is en gevolglik die hele dorp sonder water laat.

Hierdie aksie volg nadat die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit weereens sonder water is weens Rand Water wat tegniese probleme ondervind. Die watertekort het Bethal met droë krane gelaat en inwoners staan toue vir water. Daar is ook alweer verskeie verskonings van Rand Water ontvang en inwoners is woedend omdat niemand eers meer weet wat om te glo nie. Die Govan Mbeki-munisipaliteit het ook aangekondig dat hul kantore gesluit is omdat daar nie water is nie.

“Die munisipaliteit verdien nie ’n afdag nie. Ondernemings moet water ten duurste aankoop en aanry om hul deure oop te hou, maar die amptenary kan sommer net afvat – dit is onaanvaarbaar,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

“Ons boere lewer die water kosteloos aan die gemeenskap; dít tydens een van die Hoëveld se ergste droogtes in die laaste twintig jaar. Dit is alles as gevolg van die regering se verval en korrupsie,” sluit Bekker af.

Inwoners word versoek om AfriForum in Bethal te ondersteun: Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings