|

Dink-of-Sink: Dié skole dring deur na finale rondte

AfriForum en verskeie media-vennote insluitend Beeld, Volksblad, Burger en die Groot Ontbyt, het vanjaar die onvoorbereide Afrikaanse debatvoering vir skole, Dink-of-Sink, in Gauteng, die Vrystaat en die Wes-Kaap aangebied.

Volgens Carien Bloem, koördineerder van onderwysprojekte by AfriForum, is die doel van die wedstryd om hoërskoolleerlinge se denk- en redenasievermoëns in Afrikaans te ontwikkel sodat hulle hulself later as volwassenes behoorlik kan uitdruk en standpunt kan inneem. Leerlinge kry dus slegs vyf minute om voor te berei vir hul debat.

“By AfriForum beywer ons ons vir die bevordering van moedertaalonderrig en hierdie is die ideale geleentheid vir die uitbouing van Afrikaans as moedertaal. Debatvoering is ’n belangrike vaardigheid wat reeds van kindsbeen af by leerlinge gekweek moet word,” meen Bloem.

In die Wes-Kaap het Paul Roos Gimnasium as juniorwenner met die louere weggestap, terwyl Hoërskool D.F. Malan as seniorwenner uit die stryd getree het. Leon Rossouw, ’n graad 12-leerling aan die Hoërskool D.F. Malan is as die debatspreker met die beste Afrikaanse taalgebruik bekroon in dié provinsie.

C&N Meisieskool Oranje het as junior- en seniorwenners in die Vrystaat met die louere weggestap.

Die Gauteng-uitdunne van die Dink-of-Sink-debatskompetisie het gister plaasgevind waar Helpmekaar Kollege as juniorwenner en die Afrikaanse Hoër Seunskool as seniorwenner uit die stryd getree het. Lielie Viljoen van die Hoërskool Waterkloof is as die debatspreker met die beste Afrikaanse taalgebruik aangewys.

Dié spanne sal op 24 September teen mekaar te staan kom by die Dink-of-Sink-finaal wat by AfriForum se hoofkantoor in Centurion sal plaasvind.

Soortgelyke plasings