|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum Jeug het vandeesweek by die Departement van Onderwys protes aangeteken teen die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela). AfriForum en Saai het ook ’n gesamentlike landbouprojek met die kantoor van Kgosi Gaboilelwe Moroka afgeskop.

Die boodskap van AfriForum Jeug se protesaksie by die Departement van Onderwys se kantoor in Pretoria is eenvoudig dat die Bela-wetsontwerp boos is en verwerp moet word. Hierdie wetsontwerp bevat verskeie klousules wat AfriForum as onaanvaarbaar beskou. Die bedreiging wat dit vir moedertaalonderrig kan inhou, is een van die grootste knelpunte. Indien die wetsontwerp aanvaar word, sal dit onder meer beteken dat skole se beheerliggame die finale seggenskap oor hul skool se taalbeleid sal verloor.

Plaaslike boere in die Thaba’Nchu-omgewing het opleiding ontvang toe ’n inheemseveldbok-inkubasieprojek vandeesweek in die Barolong Boo Seleka-koninkryk afgeskop is. AfriForum en die familieboernetwerk Saai het met die kantoor van Kgosi Gaboilelwe Moroka hande gevat om kleinskaalse boere opleiding te gee om tot volwaardige kommersiële boere te ontwikkel.

Die ekonoom Dawie Roodt het tydens AfriForum se konferensie oor Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gesê algehele privatisering van die gesondheidsbedryf is in kort die enigste werkbare alternatief vir die beoogde NGV. Verskeie ander sprekers het ook die uitvoerbaarheid van die NGV bevraagteken.

Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum

Die uitspraak in die Konstitusionele Hof, waarin bevind is dat die eise van Suid-Afrikaanse slagoffers van Zimbabwe se grondgrype verjaar het en hulle dus vergoeding geweier is, is nie die einde van die pad vir dié boere nie, benadruk AfriForum en Saai. Die uitspraak is op grond van ’n regstegniese punt gelewer. AfriForum en Saai hou egter vol dat die wese van geregtigheid nooit kan verjaar nie en geen onreg ooit finaal is nie. Ander kanale om geregtigheid te laat geskied, sal intussen oorweeg word.

In Dullstroom het die AfriForum-tak saam met die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum en Drive Dullstroom’s Destiny die polisiekantoor se perseel skoongemaak. Dié perseel is verwaarloos en afgeskeep. Daar is onder meer gras gesny, bossies is uit beddings verwyder en ’n nuwe bord is voor die kantoor opgerig om dit vir besoekers en toeriste makliker te maak om die polisiekantoor te vind.

Volgehoue druk van die AfriForum-tak in Bronkhorstspruit het daartoe gelei dat die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit slaggate en straatligte in die dorp herstel het. Daar is 41 straatligte en 61 slaggate herstel.

Volgehoue druk deur AfriForum het daartoe gelei dat die Tshwane-Metro paaie in Bronkhorstspruit herstel het.

Rustenburg en Benoni se paaie lyk ook beter ná die onderskeie AfriForum-takke slaggate herstel het. AfriForum se Groter-Moot-tak het in April meer as 300 manure aan allerlei projekte spandeer. Die tak se buurtspan het onder meer gras gesny, slaggate herstel en noodwaterpunte se water gesirkuleer.

AfriForum se Middelburg-tak het die kinderbegraafplaas van die plaaslike Anglo-Boereoorlogkonsentrasiekampterrein opgeruim en die heining om die grafte opgeknap. Lede het die stukkende dele van die staalheining reggemaak deur nuwe pype vas te sweis. Verder het die heining ook ’n nuwe lagie verf gekry.

Die eerste streeksuitdun van AfriForum se Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie is by die Hoërskool Framesby in Port Elizabeth aangebied. Agt skole het spanne ingeskryf met die gasheerskool wat die junior kompetisie gewen het. Die Hoërskool Pearson het die kategorie vir seniors gewen.


 

Soortgelyke plasings