|

AfriForum buig boompies vroeg om boeliegedrag te voorkom

AfriForum se teenboelieveldtogspan het tydens ’n onlangse besoek aan Peuter Kleuter in Kempton Park seker gemaak dat die boompies hiér gebuig word terwyl hulle nog jonk is. Die span het saam met Matteus, AfriForum se teenboelieveldtog-maskot, die kleuterskool besoek en die kleuters geleer oor afknouery en hoe om hierdie gedrag vroeg in die kiem te smoor.

Tania Scheepers, AfriForum se projekassistent vir onderwys, en Matteus het vir kleuters geleer hoe om boeliegedrag in hulself en hul maats te identifiseer, en hoe om dit die hoof te bied. Die kleuters is ook geleer hoe om die volle wapenrusting van God aan te trek om hulself te beskerm, en selfs hul boelies te help.

Boeliegedrag kan reeds op kleuterskool kop uitsteek en kan stelselmatig in kinders se laerskoolloopbaan erger word. Dit kan óf aan die einde van hul laerskoolloopbaan ’n hoogtepunt bereik óf in hoërskool wanneer hulle by onwettige bedrywighede betrokke raak. Dit is daarom belangrik dat stappe op ’n jong ouderdom gedoen word om te voorkom dat kinders in boelies verander of die slagoffers van afknouery word.

“Dit is van onskatbare waarde om leerders op ’n jong ouderdom met die regte hulpbronne toe te rus sodat hulle in die toekoms mekaar met die nodige wedersydse erkenning en respek hanteer,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

Ná afloop van AfriForum se besoek aan die kleuterskool, het Ilse de Beer, onderwyser by Peuter Kleuter, daarop gewys dat bewustheid oor boeliegedrag, veral gedurende die voorskoolse jare, ’n belangrike rol speel in die bevordering van ’n veilige leeromgewing.

“Inisiatiewe soos AfriForum se teenboelieveldtog bied die nodige hulpbronne en leiding aan kleuters oor die negatiewe gevolge van boeliegedrag. Met behulp van praktiese strategieë kan kleuters afknouery aktief voorkom, en sodoende ’n kultuur van respek, empatie en samewerking koester. Hierdie wedersydse respek verbeter nie net die algehele leerervaring vir die kleuters nie, maar bevorder ook hul emosionele en sosiale ontwikkeling, wat ’n grondslag lê vir suksesse binne en buite die klaskamer,” sê De Beer.

Seuns en meisies kan boeliegedrag toon. Hoewel seuns meer geneig is om ander fisiek af te knou deur byvoorbeeld te slaan of te skop, vertoon meisies eerder indirek boeliegedrag deur ander uit die groep te sluit.

Vir meer inligting oor boeliegedrag en hoe om dit in kinders te identifiseer besoek www.teenboelie.co.za en laai AfriForum se teenboelie- en kuberboeliegidse gratis af.

Soortgelyke plasings