|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek in Parys met ’n protesaksie saam met verskeie ander rolspelers opgeruk na die kantoor van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit om te kla oor swak dienslewering in hierdie munisipaliteit. Dié burgerregteorganisasie se plaasaanval en -moordverslag is ook bekendgestel en dis duidelik dat die gewelddadigheid van plaasaanvalle nog nie afgeneem het nie.

Inwoners van Parys en ander dorpe in die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit kla gereeld oor dienslewering. Daar is gereeld water- en kragonderbrekings in Parys en dit het nou ook aan die lig gekom dat onbehandelde rivierwater direk in inwoners se krane beland. AfriForum het saam met ander rolspelers ’n ingenieursverslag en memorandum tydens ’n optog in die dorp aan die munisipale bestuurder oorhandig wat vir dringende optrede vra om die watersuiweringsaanleg in die dorp reg te ruk.

AfriForum se plaasaanval- en moordverslag toon dat daar gedurende 2023 amper een moord per week op die land se plase was. Die vlak van gewelddadigheid van aanvalle is steeds hoog met slagoffers wat dikwels gemartel word. AfriForum meen dis tyd dat hierdie soort misdaad met dieselfde erns as verskeie ander prioriteitsmisdade hanteer word, eerder as wat pres. Cyril Ramaphosa in die buiteland ontken dat daar iets soos plaasmoorde is.

Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir gemeenskapsveiligheid

’n Beduidende stap is gedoen om Fikile Mbalula, die ANC se sekretaris-generaal, privaat te vervolg op aanklagte van korrupsie wat verband hou met sy 2016-gesinsvakansie na Dubai. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het die dossier by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se hoofkwartier afgehaal nadat ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) suksesvol was. Die eenheid is nou selfs meer oortuig dat daar gronde is om Mbalula te vervolg en is vasbeslote om seker te maak hy kry sy dag in die hof.

Barry Bateman, woordvoerder van die privaatvervolgingseenheid

Solidariteit, AfriForum en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het vandeesweek hul gesamentlike druk op die regering oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) verskerp met ’n petisie aan pres. Ramaphosa. Hierin word gevra dat die president nie dié anti-Afrikaanse wetgewing onderteken nie. AfriForum meen ook die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, se mees onlangse uitlatings oor die waarde van moedertaalonderrig en haar departement se waardering vir Afrikaanse skole, is blote oëverblindery in aanloop tot die verkiesing.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake

AfriForum se teenboeliespan het die afgelope maand onder meer die Christelike Privaatskool Malmesbury, Laerskool Aristea, Laerskool Bellville-Noord, die Paarl-skool, Hebron Christenskool, Laerskool Hendrik Louw en Laerskool Lochnerhof in die Wes-Kaap besoek waar praatjies oor die gevare van boeliegedrag aangebied is. ’n Boodskap van hoop, respek en bemagtiging het die skole bereik, terwyl leerders ook opgelei is om boeliegedrag te identifiseer en hok te slaan.

Matteus en Daniël Bader (Graad 1) van die Christelike Privaatskool Malmesbury

In Bethal en Benoni het die AfriForum tonne en tonne teer gebruik om slaggate te herstel. In Bethal is 200 sakke teer aangewend om slaggate te herstel. Dit volg ná die gemeenskap 180 sakke teer aan die tak geskenk het. In Benoni is 75 slaggate herstel. Die Bethal-tak het ook 20 nuwe straatligte in die dorp aangebring.

Soortgelyke plasings