|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum is steeds in ’n hofstryd met Eskom gewikkel om inligting oor kontrakte wat die nutsmaatskappy vir die verkryging van steenkool en diesel het, te bekom. Dié burgerregteorganisasie se takke was ook vandeesweek besig met alles van brande blus tot slaggate herstel en die oprigting van noodwaterpunte.

Uitspraak is in die Gautengse Hooggeregshof in Pretoria voorbehou in Eskom se aansoek om verlof tot appèl in die kontraksaak waar die hof in Maart in AfriForum se guns beslis het. Die hof het Eskom verplig om binne tien dae vanaf daardie uitspraak inligting rakende hul bestaande steenkool- en dieselkontrakte aan AfriForum te voorsien. Bewerings van korrupsie en onreëlmatighede in Eskom se verkryging van steenkool en diesel het AfriForum genoop om die inligting aan te vra sodat ’n omvattende ondersoek van stapel gestuur kan word.

Die beplande en herhaalde misdrywe van bedrog, korrupsie en geldwassery wat die EFF-leiers Julius Malema en Floyd Shivambu na bewering gepleeg het, mag moontlik voldoen aan die vereistes vir rampokkery soos dit in die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (POCA) vervat is. Dít is die kruks van AfriForum se bewering  in die kriminele klag wat vandag by die Sandton-polisiestasie ingedien is. Die burgerregteorganisasie versoek dat die owerhede ’n rits klagtes teen Malema en Shivambu ondersoek en die EFF as ’n georganiseerde misdaadonderneming.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

AfriForum het hierdie week die hoop uitgespreek dat gemeenskappe en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) nouer kan saamwerk om misdaad te bekamp. Die burgerregtewaghond meen ook die nuutaangestelde minister van Polisie, Senzo Mchunu, toon begrip vir die erns en omvang van die misdaadsituasie in die land. AfriForum het reeds 177 buurt- en plaaswagte wat op grondvlak uitstekend met die SAPD saamwerk.

Die AfriForum-buurtwag in Durbanville het oor die afgelope agt maande 277 winkeltrollies in die omgewing gekonfiskeer. Hierdie trollies is afgevat van boemelaars en mense wat voorgee om haweloos te wees, maar dit dan vir verskeie misdade gebruik. Hierdie tak werk saam met kleinhandelaars in die omgewing wat hulle toestemming gegee het om die trollies terug te kry.

Die AfriForum-buurtwag in Durbanville het oor die afgelope agt maande 277 winkeltrollies in die omgewing gekonfiskeer.

Waarskuwingsborde is langs die Henk Joubert-natuurreservaat naby Delareyville aangebring. AfriForum se Delareyville-tak wil hiermee motoriste waarsku teen die gevaar van wilde diere wat oor die pad beweeg. Dit volg nadat die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit nog geen poging aangewend het om ’n heining om die reservaat op te rig nie.

In Vaalharts het die AfriForum-buurtwag gehelp om vermeende mineraalsmokkelaars vas te trek. Die buurtwag het in ’n gesamentlike aksie met die SAPD op die vermeende smokkelaars toegeslaan. Die verdagtes was onder meer in besit van R185 000 kontant.

Die AfriForum-tak in Vanderbijlpark was die afgelope paar weke betrokke by die blus van vyf veldbrande. Die Nelspruit-tak het intussen ’n skenking ter waarde van R5 000, wat energiedrankies, water en lemoene ingesluit het, aan Lowveld & Escarpment Fire Protection Association (LEFPA) gemaak om laasgenoemde in hul werk te ondersteun.

AfriForum se tak in Vanderbijlpark het die afgelope paar weke gehelp om vyf veldbrande te blus.

Waterprobleme is deesdae ’n algemene verskynsel op verskeie dorpe in die land. AfriForum se Naboomspruit-tak het ’n noodwaterpunt in dié dorp opgerig om hier te help wanneer daar wateronderbrekings is. Hierdie punt het kapasiteit vir 10 000 liter water.

AfriForum se Benoni-tak is in Julie op ’n missie om soveel as moontlik slaggate op dié dorp te herstel. Dié tak het onlangs bykans twee ton teer gebruik om slaggate te herstel. In Rustenburg het die AfriForum-tak 15 ton teer ingespan vir die herstel van ’n verbrokkelende stuk pad.

Soortgelyke plasings