|

Forum Nuus: Dié week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek deelgeneem aan die 15de sitting van die Verenigde Nasies (VN) se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Genève, Switserland. Die organisasie het ook aangedui dat hy hom tot die howe sal wend oor die omstrede Nasionale Gesondheidsversekering (NGV).

Ernst Roets, uitvoerende hoof van Internasionale Skakeling by AfriForum, het by die VN ’n voorlegging gedoen oor voortgesette haatspraak en diskriminiasie teen minderhede in Suid-Afrika. Roets en Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir inhoud en strategie by AfriForum, het ook ’n verslag by die VN se Komitee vir die Eliminasie van Rassediskriminasie ingedien met voorbeelde van diskriminerende wetgewing en beleide wat sedert 2020 in Suid-Afrika voorkom en ingestel is. Dit bevat ook inligting oor die jongste voorvalle van haatspraak deur hooggeplaastes in die ooreenstemmende tydperk.

Dis dieselfde regering wat jou in die donker laat omdat hulle Eskom in die grond in bestuur het.

Terwyl die regering voortgaan met sy planne om wetgewing rondom die omstrede Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) deur die parlement te probeer druk, is AfriForum gereed om die howe te nader in die stryd om gehalte-gesondheidsorg te verseker. “Die regering wil die alleenreg en mag hê om oor gesondheidsorg vir almal in die land te besluit. Dis dieselfde regering wat jou in die donker laat omdat hulle Eskom in die grond in bestuur het,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir inhoud en strategie by AfriForum.

Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir inhoud en strategie by AfriForum

Die Barolong Boo Seleka-tradisionele gemeenskap het vandeesweek tydens ’n gesamentlike mediakonferensie met AfriForum aangekondig dat dié tradisionele gemeenskap die proses begin het om eienaarskap van hul grond by die staat terug te neem wat tans die voog daarvan is. “Die oordrag van grondeienaarskap van die staat na tradisionele gemeenskappe is noodsaaklik vir die versterking van gemeenskapselfstandigheid en daarom moedig ons tradisionele gemeenskappe aan om die eienaarskap van hul grond te herstel,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.

Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum
Barend Uys en Kgosi Gaboilelwe Moroka, leier van die Barolong Boo Seleka-tradisionele gemeenskap

Wat plaaslikeregeringsake betref het AfriForum se Paulpietersburg-tak ’n gevorderde kamerastelsel geïnstalleer om misdaad te bekamp. ’n Soortgelyke stelsel word reeds met groot sukses in ander dele van KwaZulu-Natal en Mpumalanga gebruik.

Deneysville se AfriForum-tak is amptelik gestig. Oranjeville is tydelik by hierdie tak ingedeel totdat daar genoeg lede gewerf word om ’n volwaardige tak in dié dorp te stig. Die nuwe tak is reeds volstoom aan die gang en een van die eerste prioriteite is om ’n buurtwag op die been te bring voor die Desembervakansie begin.

AfriForum se Sasolburg-tak het die jaar se werk met ’n heerlike Kersmark in die Hoëveldse Tuine afgesluit. Die afgelope maand is 37,5 ha gras in Sasolburg gesny – baie daarvan in die Hoëveldse Tuine. Dié tuine is deur die tak oorgeneem en is al baie mooi opgeknap.

Soortgelyke plasings