|

Oudste gemeenskapsorganisasies in Suid-Afrika sluit geskiedkundige ooreenkoms

Die Solidariteit Beweging en die Transvaalse Landbou Unie (TLU SA) het vandag ʼn geskiedkundige ooreenkoms gesluit wat ten doel het om dié organisasies se gemeenskaplike optrede in sake wat albei se lede raak, te versterk.

Die Solidariteit Beweging, ’n sambreelliggaam wat bestaan uit verskeie burgerlike organisasies in samewerking met die TLU SA, ’n burgerlike organisasie wat die landboubelang van die boerderygemeenskap sowel as landelike veiligheid bevorder, het besluit om dié ooreenkoms te sluit omrede daar oorvleueling tussen die werksaamhede van TLU SA en organisasies soos AfriForum binne die Beweging is.

Die sake sluit ondermeer gemeenskapsveiligheid, eiendomsreg, omgewingsake en munisipale aangeleenthede in.

Volgens Dirk Herman, bestuurshoof van Solidariteit, is dié gesamentlike ooreenkoms bewys daarvan dat gemeenskapsorganisasies die toets van tyd deurstaan het. Hy meen dat die vakbond, wat in 1901 gestig is en die TLU, wat volgende jaar sy 120ste bestaansjaar bereik, saam ʼn groter impak kan hê op hul gemeenskaplike gebiede.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, is dit noodsaaklik dat veral organisasies soos AfriForum en TLU SA saamwerk om gemeenskappe te beveilig, omdat albei organisasies reeds sterk gevestigde veiligheidstrukture in plattelandse gebiede het.

“Ons sienings oor nasionale vraagstukke soos eiendomsreg stem ook ooreen, terwyl omgewingsake en die agteruitgang van munisipale dienste in die meeste dorpe vir beide organisasies se lede lewensbelangrik is,” het Buys gesê.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het ook gesê dat dit belangrik is dat die burgerlike samelewing hande moet vat en mekaar versterk.

Hy meen dié ooreenkoms is van kardinale belang om die land se vooruitgang te verseker omdat daar tans baie onsekerheid rakende veral beleide en beleidstelling in Suid-Afrika is.

“Ons organisasies, wat beide rolspelers in die burgerlike samelewing is, het ʼn groot verantwoordelikheid om stabiliteit en ʼn toekoms vir ons nageslagte te skep.”

Besoek www.solidariteit.co.za vir meer inligting oor dié beleid.

Soortgelyke plasings