|

Geesfees vind weer plaas ten bate van #StopHonger-voedingskema

Daar is elke aand kleuters wat honger gaan slaap omdat hulle ouers nie finansieel in staat is om kos op die tafel te sit nie. Daarom bied Solidariteit Helpende Hand en Virseker vanjaar weer die Virseker Geesfees aan ten bate van Helpende Hand se #StopHonger-voedingskema. Dié fees gaan nie net kos vir die gees verskaf nie, maar ook behoeftige kinders se honger magies help voed.

Van die land se gewildste kunstenaars gaan tydens die Virseker Geesfees sorg vir ’n feestelike atmosfeer. Dié kunstefees vind van 24 tot 26 Maart by die Lekwena Wildlife Estate ongeveer 10 km buite Potchefstroom plaas.

Kunstenaars soos Demi Lee Moore, Appel, Juan Boucher, Eloff, Bernice West en vele meer gaan oor dié drie dae vir vermaak sorg. Feesgangers kan uitsien na ’n kuiertuin en verskeie stalletjies met lekker kos en aktiwiteite vir oud en jonk. Daar is ook ’n baardkompetisie en mans met indrukwekkende baarde kan gerus vir die Buffelsfontein-baardkompetisie inskryf.

“Om feestelik te wees is een ding, maar ons wil ook graag die fees aan ’n groter doel koppel. Meer as 8 000 kleuters is tans deel van Helpende Hand se #StopHonger-voedingskema. #StopHonger help kleuterskole in Afrikaanse gemeenskappe met koopbewyse om kos vir hulpbehoewende kleuters aan te koop en vir baie van dié kleuters is dit hul hoofmaaltyd vir die dag,” sê René Roux, adjunk- uitvoerende hoof van Kommunikasie by Solidariteit Helpende Hand.

Hekke open om 08:00 en sluit weer om 22:00. Kaartjies is aanlyn by www.tixsa.co.za en by Kooperasie Kroeg & Kos in Potchefstroom te koop terwyl voorraad hou. Kaartjies kan ook by die hek aangekoop word teen ’n bykomende koste.

Soortgelyke plasings