|

Die Gelofte Musiekblyspel inspireer, verras én besiel oud en jonk

’n Musiekblyspel is ’n baie unieke en spesiale vorm van teater wat nie altyd by Jan en San Alleman, veral diegene wat nie gereeld teater toe gaan nie, byval vind nie.

Die aanname is waarskynlik ook nie oordryf dat jy vandag se tieners of jong volwassenes moeilik in die teater gaan kry as hul enigste verwysingsraamwerk van ’n musiekblyspel High School Musical is nie.

Wat Johan Vorster en Jacomien de Wet van Inhoud Huis Musiek (die vervaardigers) en Jannes Erasmus, skrywer en regisseur van die blyspel, egter met Die Gelofte reggekry het, is vars, verrassend en vernuwend.

Die Gelofte sal nie noodwendig in almal se smaak val nie, maar as jy ’n hart vir Afrikaners, hul taal, kultuur, geskiedenis én hul hedendaagse stryd het, sal hierdie tot jou spreek. Dit sal jou ook emosioneel en geestelik diep raak. Of jy oud of jonk is! En dit is waarskynlik een van die groot pluspunte, naamlik dat die vervaardigers dit regkry om die boodskap en historiese betekenis van Die Gelofte vir verskillende generasies oop te breek.

Só baie jong volwassenes en skoliere het weinig kennis van Die Gelofte omdat dit met die demokratiese oorgang in die land nie meer deel van die skoolkurrikulum was nie of in sommige leermateriaal eensydig en verdraai weergegee is.

Teatergangers wat die eerste vertoning gisteraand in die AfriForum Teater in Pretoria bygewoon het, was aangenaam verras en opgewonde oor dié belewenis.

Hulle was ook baie beïndruk met die toneelspel van die akteurs waaronder Johan Vorster as Sarel Cilliers, Nadia Beukes as Anna, Cilliers se vrou, Bernice West as Maria, Ilán van Staden as Christiaan, Zoricke Snyman as Johanna, Jordan Human as Klein Ventertjie en Eddie Pretorius as Andries Pretorius.

Simoné Stoop van Pretoria sê: “Ek het met tye hoendervleis gehad. Ek het geweet dit gaan nice wees, maar nie só nie.”

Volgens haar het die blyspel haar as Afrikaanse persoon aangegryp en met tye trane in haar oë gebring. “Dit is baie goed. Dit is ’n swaar onderwerp, maar die vervaardigers het dit reg gekry om die spanning goed te breek. Daar is verskeie skakerings van toneelspel wat ek baie geniet het.”

Simoné Stoop

Shevonne Bicknell meen die blyspel beeld Die Gelofte baie goed uit. Sy was ook baie beïndruk oor die liefdesverhaal wat ingebring is en met die sing van die lied Soen my op my mond “het ek sommer my man gemis”.

Volgens haar is die tonele lewensgetrou en kan jy jou in die skoene en situasie van die akteurs plaas. “Ek het ook van die tydspronge gehou wat jou in die hede en die verlede plaas. Ek dink dit is baie slim uitgebeeld.”

Shevonne Bicknell

Ischke en Brandon van Eeden meen die blyspel het dit reggekry om hulle “emosioneel betrokke te maak”.

“Dit is baie insiggewend en informatief omdat ons nie baie van die geskiedenis van Die Gelofte weet nie. Die komiese tonele, skerp sêgoed en grappies het dit ook vermaaklik gemaak.”

Ischke en Brandon van Eeden

André Alkema, voorsitter van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) en sy vrou, Nelie, sê die blyspel was ’n uitsonderlike vertoning.

“Ons is baie beïndruk en die verslaentheid van die Voortrekkers ná die moorde by Bloukrans, Weenen en Moordspruit is veral baie goed uitgebeeld,” meen André.

André en Nelie Alkema

Die nag van 17 Februarie 1838 staan bekend as die nag van die Groot Moord toe talle niksvermoedende Voortrekkerfamilies langs die Bloukransrivier deur Zoeloekrygers aangeval en uitgemoor is. Daar is 185 kinders, 56 vroue en 40 mans vermoor. Dit sou uiteindelik aanleiding gee tot die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838.

Volgens André dra die blyspel ’n boodskap van hoop uit. “Dit is vandag steeds van groot belang en betekenis. Al voel Afrikaners vandag weer verslaan oor hul omstandighede, misdaad en die gebrek aan water en elektrisiteit, het hulle steeds hoop.”

Volgens Nelie is die boodskap een van onvoorwaardelike geloof in God. “Net soos toe, moet ons op die Here vertrou en bly vertrou.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die organisasie het die projek saam met Inhoud Huis Musiek aangepak omdat “ons as hedendaagse moderne Afrikaners beslis inspirasie kan put uit die deursettingsvermoë, geloof en roepingsgedrewenheid wat ons voorgeslagte onder uitdagende omstandighede ten toon gestel het tydens die Groot Trek, met die aflê van die Gelofte en die Slag van Bloedrivier.

“Met hul Christelike geloof as anker het ons voorgeslagte self hand aan die ploeg geslaan om ’n nuwe toekoms vir hulself en hul nageslag te bou. Ons kan trots wees op wat ons voorgeslagte bereik het.”

Die blyspel is tot 29 Mei op die planke by die AfriForum Teater en kaartjies kan bespreek word by www.afriforumteater.co.za of http://linktr.ee/diegelofte

Kaartjies kos R350 per persoon.

Foto’s: Carina Bester en Reint Dykema

Soortgelyke plasings