| |

Kaper vasgetrek danksy AfriForum-steunkring en SAPD lugvleuel in Oos-Kaap

AfriForum se Walker Drive-buurtwag het verlede week reageer op ’n noodberig dat ’n vragmotor in die Sherwood-area gekaap is. Die AfriForum-buurtwagte in die omgewing het dadelik reageer en een van die verdagtes is uiteindelik gearresteer.

’n Lid van AfriForum se Winterberg-plaaswag buite Uitenhage het ongeveer ’n uur en twintig minute ná die noodberig die vragmotor opgemerk en bystand ontbied. Twee plaaswaglede het die trok agternagesit.

Die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het ook ’n helikopter van hul lugvleuel in Gqeberha op die kapers se spoor gesit en die vragmotor afgetrek. Die verdagtes het uit die vragmotor gespring en te voet gevlug. Twee AfriForum-patrolleerders het hulle agternagesit en kon daarin slaag om een verdagte vas te trek wat later gearresteer is – die tweede verdagte is nog nie aangekeer nie.

“Met hierdie sukses het ons net weereens gesien hoe die AfriForum-veiligheidsteunkring model vrugte afwerp. In die verlede was dit moeilik om misdadigers agterna te sit wanneer hulle buite buurtwagte se verantwoordelikheidsgebied gaan, maar nou kan verskillende buurtwagte maklik met mekaar in verbinding tree en saam werk om misdadigers vas te trek. Ons nuwe radionetwerk het ook gehelp om kommunikasie aansienlik te verbeter,” sê Hannes Oosthuizen, leier van die AfriForum Walker Drive-buurtwag.

Volgens David Olivier, AfriForum se streekshoof vir veiligheid in die suidstreek, is dit van kardinale belang dat die gemeenskap betrokke raak by gemeenskapsinisiatiewe soos buurtwagte en sodoende te help om die SAPD se hande sterk te maak.  “Ons is in die proses om nog drie buurtwagte in die Port Elizabeth en Uitenhage-area te stig en hulle stigtings behoort in Augustus afgehandel te wees.”

Soortgelyke plasings