|

Kuberboeliewebinaar: Word #SkermSlim en beskerm jou kinders teen aanlyn gevare

Aanlyn boeliegedrag het die afgelope jare skerp toegeneem en daarom is daar juis tydens Kinderbeskermingsweek (29 Mei tot 5 Junie 2024) op die beskerming en veiligheid van kinders gefokus.

AfriForum, Solidariteit Helpende Hand en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum bied op 6 Junie (môre) ’n gratis webinaar aan oor kuberboeliery om ouers en onderwysers te bemagtig en in te lig oor die gevare van kuberboeliery.

Tydens dié webinaar gaan Leandie Bräsler, bestuurder vir jeugontwikkeling by AfriForum, adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, en Yolandé Singleton, Solidariteit Helpende Hand se hoof van Ons Sentrum, oor kuberboeliery, gevaarlike toeps en kinderpornografie gesels. Hulle gaan ook oor die wet en die regte van onderwysers praat.

Adv. Vorster gaan tydens die webinaar meer inligting deel oor hoe kinders beskerm kan word en wat die regsimplikasies kan wees as kinders hulself skuldig maak aan kuberboeliery en kinderpornografie. Singleton gaan weer gesels oor hoe kinders benader kan word, hoe om ’n vertrouensverhouding te bou en hoe om kinders te bemagtig en te leer om nie ’n boelie te wees nie. Bräsler gaan AfriForum se Kuberboeliegids bespreek waarin die gevare van boeliery behandel word en gevaarlike toeps wat kinders gebruik gelys word.

Wat kuberboeliery van gewone boeliery onderskei, is dat die boelie saam met die kind huis toe gaan en dat die boeliery nie meer net by die skool plaasvind nie. Kuberboeliery is soveel erger en lei tot selfdoodgedagtes, sê Bräsler.

Daarom moet ouers hul kinders bemagtig om boeliegedrag te herken en dit te stop. Kinders moet ook gewys word hoe om ’n boelie op hul selfoon te blok en om skermskote te maak van die boeliery.

Volgens Bräsler is daar ’n aantal gevaartekens wanneer ’n kind aanlyn geboelie word of self die boelie is. “Selfone word gewoonlik weggesteek of die kind raak angstig indien boodskappe deurkom en hulle het dikwels ’n wagwoord op die selfoon,” sê sy.

Met die vinnige tempo waarteen sosiale media en tegnologie ontwikkel, moet ouers seker maak dat hulle weet wat hul kinders se wagwoorde is of van toepassings gebruik maak wat kinders se selfoon- en internetgebruik moniteer.

Sy sê ouers moenie bekommerd wees dat hulle inbreek maak op hul kind se privaatheid nie. Alhoewel die internet vol goeie inhoud is, hou dit ook heelwat gevare in. Daar is kuberkrakers, booswigte wat kinders seksueel voorberei (groom) of vir hulle foto’s stuur wat hulle nie moet nie. “Ouers het die reg om na hul kinders se veiligheid om te sien – veral omdat hulle onder 18 is.

“Hier by AfriForum is kinders se veiligheid vir ons belangrik, hetsy dit by die skool of in die kuberruim is, want veilige skole sorg vir veilige gemeenskappe. So is dit ook met veilige kuberruimtes en die gebruik van tegnologie. Selfone en die internet is kinders se voorreg; dit is nie ’n reg nie.”

Klik hier om gratis vir die webinaar te registreer.

Soortgelyke plasings