|

Nuuskommentaar: ANC nie net in homself verdeeld nie, maar ook oor referendums

Oor verdeeldheid binne die ANC is daar nie meer enige onduidelikheid nie. Selfs die party se leierskap is uitgesproke en diep bekommerd daaroor.

Faksiegevegte, smeerveldtogte, persoonlike aanvalle en verdagmakery is aan die orde van die dag binne die party.

Dit is egter nie die grootste probleem waarmee die party te kampe het nie. Ook op beleidsvlak is daar duidelik nie konsensus nie en baie uiteenlopende sienings en standpunte oor kwessies soos nasionalisering, privatisering en onteiening. Referendums kan vandeesweek by dié lysie gevoeg word ná verteenwoordigers van die party behoorlik bontgepraat het oor die moontlikheid van afwenteling van polisiëringsmagte in die Wes-Kaap.

Die afwenteling van mag is reeds geruime tyd op die Wes-Kaapse regering se agenda in die lig van die ANC se mislukking om misdaad en geweld in dié provinsie, maar helaas in die hele land, onder bedwang te bring.

Wat die kwessie van afwenteling van mag betref, het pres. Cyril Ramaphosa onlangs in reaksie op ʼn parlementêre vraag van die DA gesê die grondwet maak nie hiervoor voorsiening nie. Hy het aangedui dat die grondwet ’n enkele polisiediens voorsien wat op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak werk, onder die leierskap van die nasionale polisiekommissaris.

Dit is egter ’n oorvereenvoudigde antwoord, want die grondwet kan, soos wêreldwyd die gebruik is, ook hersien of gewysig word. Die gemiddelde leeftyd van ʼn grondwet is sewentien jaar. Veranderinge in samelewings het tot gevolg dat grondwette hersien word.

Die feit dat Ramaphosa voorhou dat die grondwet nie vir afwenteling van mag voorsiening maak nie, is eintlik ironies gegewe die feit dat die ANC juis daarvoor druk om die grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Die ANC in die Wes-Kaap se reaksie op ’n referendum en die afwenteling van mag, was selfs meer kras deurdat daar na die werkgroep wat hul daarvoor beywer verwys is as “’n alliansie van konserwatiewe en rassistiese organisasies” wat die grondwet wil ondermyn.

Die ANC in die Wes-Kaap sê voorts dat die partye wat lid is van die werkgroep “die ekonomiese mag en voordele wat deur apartheid en kolonialisme ten spyte van die swart meerderheid bekom is, wil behou”.

Die werkgroep bestaan onder meer uit die DA, VF Plus, ACDP, Cape Independence Party, AfriForum, Cape Independence Advocacy Group, Action Society, Kaapse Forum, Saai en verskeie regskenners.

Waar die ANC se pap oor referendums en afwenteling van mag egter behoorlik op die grond geval het, was vandeesweek in die Oekraïne waar Khulekani Mondli Skhosana, ANC-jeugleier, aan die plaaslike media gesê het dat hulle die idee van demokratiese referendums sowel as die afwenteling van mag steun. Hy het selfs verder gegaan om dit as ʼn demokratiese reg van alle mense regoor die wêreld te beskryf.

’n Mens kan nou maar net wonder of daar nog enigsins kommunikasie tussen die ANC-leierskap en die party se jeugvleuel is.

Die ANC se interne politiek, verskille en geskille sal Kaapse Forum egter nie van stryk bring nie. Die organisasie sal hom saam met ander belangegroepe vir ’n referendum en die afwenteling van mag bly beywer.

Soortgelyke plasings