|

Beskuldigde pleit skuldig ná dood van verloofde paartjie

’n Dronkbestuurder het skuldig gepleit op klagtes van strafbare manslag byna vyf jaar nadat hy die noodlottige ongeluk veroorsaak het wat die lewens van ’n pasverloofde paartjie geëis het. Die saak is eers verlede jaar op die rol geplaas, nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid betrokke geraak het. Andrew Kagiso Malele het vandag skuldig gepleit op die klagtes in die streekshof in Pretoria.

Malele se motorvoertuig het op 23 Desember 2017 met die motor gebots waarin Ruan Coen (26) en Jessika Kennedy (25) gery het. Die paartjie het drie weke tevore verloof geraak het.

Ursula Kors, Coen se ma, het AfriForum genader nadat die dossier na bewering by die Silverton-polisiekantoor verlore geraak het. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het baie nou met kol. Werner Everson van die Silverton-speurtak saamgewerk, asook met sers. Piet Ferreira van die Sinoville-speurtak, om die dossier weer saam te stel sodat die beskuldigde vervolg kon word.

Coen en Kennedy was op die N4 op pad terug na Pretoria vanaf Witrivier. Die beskuldigde het in die teenoorgestelde rigting gery, beheer oor sy voertuig verloor en met hulle motor gebots. Albei jongmense is op slag dood. Die beskuldigde het geringe beserings opgedoen en volgens ooggetuies met polisielede op die toneel geskerts.

In ’n emosionele gesprek voordat die verrigtinge begin het, het Malele aan Kors om verskoning gevra dat hy die jong paartjie se dood en daarmee saam soveel pyn en lyding vir hul geliefdes veroorsaak het. Kors sê egter dat die reg sy gang moet gaan.

“Ons is baie dankbaar dat hy skuldig gepleit het. Ons is ook dankbaar vir die moeite wat AfriForum en adv. Nel gedoen het om die dossier wat vermis geraak het weer op te bou. Ons is opreg dankbaar dat ons uiteindelik berusting kan vind. Selfs al het ons vergewe, glo ek vas dat geregtigheid moet geskied en dat ’n mens verantwoording moet doen vir die keuses wat jy in die lewe maak. Die impak van die verlies van hierdie twee jong mense het ’n rimpeleffek op baie lewens.”

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê ook dat geregtigheid moet geskied.

“Alhoewel ons nou weet dat die beskuldigde vanoggend skuldig gepleit het, is ons van mening dat hy geen ander opsie gehad het nie – daar is ’n baie sterk saak teen hom. Ons is wel baie bly dat hy skuldig gepleit het en dat die proses van vonnisoplegging nou kan ontvou. Die traumatiese gesprek wat ons vanoggend gehad het, het Ursula gehelp om berusting te vind. Ons is egter almal onwrikbaar in ons besluit dat die vonnisopleggingsproses moet voortgaan en dat die beskuldigde ’n regverdige vonnis moet kry vir die trauma wat hy veroorsaak het.”

Malele se borgtog is verleng. Die saak is uitgestel tot 7 Julie 2022 vir ’n proefbeampteverslag en slagofferimpakstudie.

Soortgelyke plasings