|

Laat Oom Paul op Kerkplein bly

Terwyl die burgemeester van Tshwane op 21 April in sy stadsrede meer duidelikheid oor die hervestiging van standbeelde en Pretoria se naam sal gee, is die burgerregte-organisasie AfriForum van mening dat die standbeeld van Paul Kruger op Kerkplein moet bly.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sê die standbeeld moet as ʼn simbool van die vryheidstryd teen koloniale oorheersing bly waar dit tans is.

“Die beeld moet bly waar dit is, op die plein voor die gebou wat Paul Kruger laat bou het vir die regering van die Republiek.”

Sekuriteit is rondom die beeld opgeskerp deur middel van lemmetjiesdraad en kringtelevisiekameras nadat dit in April verlede jaar tydens die landswye #RhodesMustFall-veldtog gevandaliseer is. Die metroraad het egter vroeër vanjaar besluit om die draad te verwyder weens rommel wat daarin vasgesit het.

Terwyl sommige instansies meen dat die Kruger-beeld uit ’n historiese oogpunt moet bly waar dit is, is daar diegene wat ten gunste van ’n verskuiwing is.

Mnr. Theuns de Wet, voorsitter van die Krugergenootskap het aan Forum Nuus gesê die beeld behoort uit ʼn historiese perspektief te bly waar dit is, maar dit sal bepaalde implikasies hê.

“Mense is te bang om die terrein by Kerkplein te besoek omdat dit ontoeganklik en onnet is.”

Hy het voorts gesê dat hervestiging van die beeld die laaste alternatief moet wees. “Ons moet die metroraad ontbloot wat die beeld wil skuif en dit vir enigiemand wat dit wil besigtig ontoeganklik maak. Dit is onaanvaarbaar dat dit so toegekamp word en nie behoorlik beskerm word nie.”

Mnr. Anton Jansen, hoof uitvoerende beampte van die Tshwane Erfenisvereniging, meen die Kruger-beeld moet slegs geskuif word om “historiese foute” reg te stel.

Die Kruger-standbeeld met die Boerkryger- en Voortrekkerhoekfigure is deur die bekende beeldhouer, Anton van Wouw, op versoek en koste van die sakeman en nyweraar Sammy Marks ontwerp en gehou.

Van Wouw het na voltooiing van die beeldhouwerk ’n ooreenkoms met ’n Italianer, Franciscus Bruno, gesluit om die beelde in brons te laat giet. Die beeld is toe uiteindelik van Rome na Delagoabaai vervoer, maar intussen het die Anglo-Boereoorlog in Suid-Afrika uitgebreek. Gevolglik is die vyf beelde ’n lang tyd in hul oorspronklike bekisting in Delagoabaai geberg.

Ná die oorlog is ernstige pogings aangewend om die standbeeld opgerig te kry. Jansen het gesê die standbeeld is twee keer geskuif voordat dit op Kerkplein aangebring is.

Die beeld is op 24 Mei 1913, op Victoriadag (oftewel “Empire Day”), vir die eerste keer aan die publiek onthul in Prinsepark (oorkant die begraafplaas), maar die vier bykomende Boerefigure het egter ontbreek. Hierna het verdere onderhandelinge, waarby genl. Louis Botha en genl. Jan Smuts betrokke was, plaasgevind om die vier Boerefigure ook in Suid-Afrika te kry.

Smuts het toe daarin geslaag om met die hulp van die Britse staatshoof te reël dat die beelde terug na Suid-Afrika gestuur word. Die stadsraad van Pretoria het destyds besluit dat die volledige standbeeld op Stasieplein opgerig moet word en op 10 Oktober 1925, presies honderd jaar na die geboorte van Paul Kruger, is die standbeeld by die Pretoria-stasie onthul.

Deur die jare was daar toenemend druk om die beelde na Kerkplein, waar dit oorspronklik opgerig sou word, te skuif.  ʼn Gebrek aan argitektoniese harmonie tussen die standbeeld en omringende geboue is een van die vele probleme wat dié proses belemmer het.

Maar na volharding deur die Krugergenootskap is die oorspronklike plan om die beeldegroep in die middel van Kerkplein opgerig te kry, verwesenlik. Op 10 Oktober 1954 is die volledige standbeeldgroep in die middel van Kerkplein uiteindelik onthul.

Jansen het bygevoeg dat vandalisme nie ʼn verskoning is om die beeld te verwyder nie, omdat die aanval op koloniale beelde en geboue volgens hom slegs tydelik is.

“As die burgemeester met 35 lyfwagte en drie karre met blou ligte vervoer kan word, kan sekuriteit by erfenisterreine en by standbeelde ook opgeskerp word.”

Volgens Cecilia Kruger, hoofkunsbewaarder by die Voortrekkermonument, is daar ander alternatiewe as hervestiging wat oorweeg kan word. Dit gaan egter moeite, samewerking en opvoedingswerk van die metroraad verg.

Sy het aan Forum Nuus gesê dat die beeld en terrein meer toeganklik gemaak kan word deur inligtingsessies te hou met toeriste en mense van verskillende kulture en rasse, of deur beelde van leiers van ander Suid-Afrikaanse kulture wat saam met Paul Kruger belangrik was op te rig.

Sy het voorts verwys na die duur en ingewikkelde gevolge wat die hervestigingsproses moontlik vir die metroraad kan inhou.

Die Voortrekkermonument het verlede jaar  ʼn argitek aangestel om te bereken wat die hervestiging van die Kruger-beeld min of meer sal kos. Hy het geraam dat die proses, wat die vervoer, herbou en voorbereiding van ʼn nuwe terrein insluit, sowat R10 miljoen sal beloop.

Volgens Kruger moet daar ʼn nuwe konteks aan die standbeeld gekoppel word om sy plek op Kerkplein te behou.

“Dit gaan nie net oor die bewaring van die standbeeld nie, maar ook oor ’n ideologiese en politieke wil om dit te beskerm.”

 

 

Soortgelyke plasings