|

Nuwe reeks oor onverklaarde geheime en verskynsels van Suidelike Afrika nou op AfriForumTV

Daar is niks so lekker soos om te wonder en teorieë uit te dink in die hoop om onverklaarde geheime soos onopgeloste moorde, verdwynings en legendes op te los nie. In die splinternuwe reeks, Doodloopspore, wat van vandag af op AfriForumTV te sien is, kan kykers saam met Wouter Botes ondersoek instel na waar die Kruger-miljoene is, wie vir Bubbles Schroeder vermoor het en wat met die vlug na nêrens gebeur het.

Botes, die aanbieder van die program, doen die afgelope 14 jaar al navorsing oor onverklaarde geheime en verskynsels van Suidelike Afrika en was die laaste persoon wat ’n onderhoud met David Polliack, een van die aangeklaagdes in die moord op Schroeder, gevoer het.

Volgens Botes is elke episode so ontwerp dat mense ná die tyd hul eie besluit moet neem oor die oplossing. “Die lekker van die reeks is jy ontdek nuwe dinge en hoe om goed te ondersoek. Daar was oomblikke wat ek so te sê voor die persoon gestaan het. Ek het met die reeks Schroeder se graf opgespoor en ek het daar gestaan en gedink hier lê sy nou, maar sy kan nie vertel presies wat met haar gebeur het nie, al weet mens wie en wat haar doodgemaak het.”

Kykers kan buiten die episodes oor Schroeder, die Kruger-miljoene en die vlug na nêrens ook uitsien na episodes oor geheimea van die Anglo-Boereoorlog, ander onverklaarde verskynsels en die tonnel na rykdom.

Kan die jarelange Suidelike Afrika-geheime in hierdie sesepisodereeks opgelos word?

Kyk weekliks na ’n nuwe episode van Doodloopspore op AfriForumTV.

Soortgelyke plasings