|

Polisie versaak gemeenskappe deur nie teen EFF-boelies op te tree nie

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n beroep gedoen op genl. Bheki Cele, die Minister van Polisie, om daadwerklik op te tree teen oortreders wat vandag Clicks-winkels landwyd gevandaliseer en beskadig het. AfriForum het verder uitgewys dat die polisie gefaal het in hul plig om die burgery te beskerm teen dié persone, wat dink dat hulle die land se wette sonder enige gevolge kan oortree.

Dit volg nadat ’n rasseherrie ontketen is weens ’n omstrede Clicks-advertensie. Verskeie EFF-leiers het hul volgers aangemoedig om hierdie kettingwinkel “aan te val”.

“Julius Malema en ander EFF-leiers se openbare oproepe tot geweld moes die SAPD op ’n gereedheidsgrondslag geplaas het om die tipe optrede te verhoed wat ons vandag gesien het. Tog blyk dit dat nog geen persoon gearresteer is wie se misdade duidelik op beeldmateriaal vasgevang is nie,” sê Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder by AfriForum.

Volgens Kamfer is die EFF en hul volgers se wettelose optrede en die SAPD se onvermoë om dit te verhoed óf om skuldige partye tot verantwoording te bring weer eens ’n bewys dat gemeenskappe hulself moet organiseer en beveilig. “Gemeenskappe en mense kan en moet hulself binne die raamwerk van die reg beskerm. Vandag se gebeure is onderstreep dit net weer eens.”

Soortgelyke plasings