Ramptoestand by die Departement van Vervoer

Onder die ANC se leierskap het wanadministrasie en swak dienslewering by die Departement van Vervoer die norm geword. Die departement se gestadige agteruitgang is opnuut in die kollig nadat AfriForum verdoemende beeldmateriaal vrygestel het wat korrupte praktyke by die Waltloo-lisensiekantoor en wanfunksionering van die National Traffic Information System (NaTIS) blootlê.

AfriForum het reeds in September 2021 ’n formele klag by die kantoor van die Openbare Beskermer ingedien, waarin die organisasie versoek het dat ondersoek na wanadministrasie en moontlike korrupsie by die Departement van Vervoer ingestel word. Na aanleiding van dié klag het die Openbare Beskermer AfriForum gevra om verdere ondersoek in te stel en bewyse te vind. Die video is aan die Openbare Beskermer gestuur as bewys van die beweerde wederregtelike praktyke.

In die video kommunikeer AfriForum se ondersoeker met derde partye wat buite die Waltloo-lisensiekantoor rondstaan. Daar kan vervolgens gesien word hoe afsprake teen betaling op dieselfde dag van aankoms by die Waltloo-lisensiekantoor gemaak kan word. Dit is dus deur samewerking tussen derde partye en korrupte personeel by die lisensiekantoor moontlik om die departement se prosesse te omseil. Dié wanpraktyke veroorsaak uiteraard vertragings vir mense wat wettiglik van die lisensiekantoor se dienste gebruik wil maak. Verder blyk dit uit die video dat derde partye betaal kan word om tydgleuwe vir afsprake te bespreek wat nié op die aanlyn NaTIS-stelsel beskikbaar is nie.

As gevolg van die omseiling van die lisensiestelsel wat in die video blootgelê word, word wetsgehoorsame lede van die publiek dikwels uit desperaatheid genoodsaak om hulself tot wederregtelike praktyke te wend om aan die Departement van Vervoer se vereistes te voldoen. Dit spreek ook vanself dat die korrupsie wat oop en bloot by die Waltloo-lisensiekantoor plaasvind die reputasie van die Departement van Vervoer in geheel skend. As dit so maklik is om korrupsie by die Waltloo-lisensiekantoor te dokumenteer, sidder ’n mens om te dink wat by ander lisensiekantore en die Departement van Vervoer plaasvind.

Benewens die probleme wat die video uitlig, word lede van die publiek ook tans met ernstige vertragings gekonfronteer wat die hernuwing van lisensies betref. Die vertragings is volgens die Departement van Vervoer te wyte aan die land se enigste lisensiekaartdrukker wat in Duitsland herstel moes word en eers einde Januarie weer in Suid-Afrika aangekom het. Dit is vanselfsprekend heeltemal onaanvaarbaar dat ’n land met Suid-Afrika se getal motoriste oor slegs een lisensiekaartdrukker beskik – en dat dié drukker skynbaar nie onderhou word nie. Die ellendige toestand van die Departement van Vervoer se toerusting is dus ’n verdere bewys van ’n onbevoegdheid om die verantwoordelikheid van behoorlike dienslewering aan die publiek na te kom.

Teen dié agtergrond begin ’n geheelbeeld van die Departement van Vervoer te vorm. Dit is ’n regeringsdepartement wat sowel binne as buite gekompromitteer is en sigself in ’n staat van onoplosbare wanadministrasie bevind. Ongelukkig is die verval van die Departement van Vervoer nie ’n geïsoleerde verskynsel nie, maar net nóg ’n domino in die stelselmatige ineenstorting van byna alle regeringsdepartemente en -instellings. ’n Ramptoestand heers op die oomblik weens Covid-19 in Suid-Afrika, maar miskien moet die ANC-regering dit ook oorweeg om sy eie gebrekkige administrasie tot ’n ramptoestand te verklaar.

Reiner Duvenage is ’n veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum. Hy het filosofie, Duits en geskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat gestudeer en ’n meestersgraad (cum laude) met ‘n fokus op politieke filosofie aan die Universiteit van Göttingen (Duitsland) en die Universiteit van Krakow (Pole) voltooi. Volg Reiner op Twitter onder die gebruikersnaam reiner_duvenage.

Soortgelyke plasings