Regerende ANC bevestig met uitsprake oor grond dat “alarmiste” nie oordryf nie


Die regerende ANC bevestig met sy uitsprake oor grondhervorming dat daar ernstige rede tot kommer oor die toekoms van Suid-Afrika is en dat daar geen meriete in die ANC se pogings is om hulle kritici van onnodige pessimisme te beskuldig nie.
Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat die ANC met sy eie uitsprake dit duidelik maak dat die poging om grond sonder vergoeding te onteien ’n rassistiese agenda behels. Die regerende party het verder geen benul oor wat gedoen moet word om voedselsekerheid en ekonomiese groei te bewerkstellig nie.

“Dit is ook duidelik dat die parlementêre proses wat van stapel gestuur is bloot ’n vorm van vertoon is en dat die regering met die proses om die Grondwet te wysig, sal voortgaan, ongeag wat in die openbare verhore gebeur.”

Gwede Mantashe, voorsitter van die ANC, het gesê dat ’n boer by Queenstown se plaas eerste onteien sal word omdat dié boer sy boerdery uitgebrei het deur die plase om hom “op te koop”. Mantashe het hierdie optrede as “gierigheid” beskou.
Jeremy Cronin, adjunkminister van openbare werke, het gedreig dat daar nie ’n toekoms vir wit mense in Suid-Afrika sal wees as die herverdeling van grond nie uitgevoer word nie.
Maite Nkoana-Mashabane, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, het gesê dat die regering ’n toetssaak voorberei om grond sonder vergoeding te onteien en dat die regering nie gaan wag op die afhandeling van die grondwetlike hersieningsproses nie.

“As ons dit nodig vind om jou grond te onteien, dan gaan ons dit doen, want dit is in die Grondwet,” het sy gesê. Sy het ook gesê dat die betrokke grond wat onteien gaan word reeds geïdentifiseer is, maar dat sy nie wil bekend maak watter grond dit is nie, omdat hulle (die ANC) nie aan die betrokke eienaars tyd wil gee om regstappe voor te berei nie.

Roets voeg by dat hierdie uitsprake dit duidelik maak dat die ANC nie verstaan dat die beskerming van eiendomsreg die basiese voorvereiste vir ekonomiese groei is nie.

“Mantashe se opmerkings dui verder daarop dat hy nie begrip het van hoe kommersiële boerdery veronderstel is om te funksioneer nie.”

Soortgelyke plasings