|

Sersant skryf boek oor slagoffers van plaasmoorde en skenk geld

 

“Agter Dewald staan ’n figuur heeltemal geklee in swart. Die gesig is versteek agter ’n swart balaklawa wat net die oë sigbaar laat. Instinktief begin Yolandi retireer. “Altus!” Haar mond roep vanself na haar man, haar stem gevul met paniek….”

Só lui ’n uittreksel uit die boek Afvlerkvoëls deur AnnMaree Barry, ’n sersant verbonde aan die Calitzdorp-polisiestasie. Die boek handel oor die hartseer van ’n plaasaanval en die trauma wat slagoffers daarna ervaar.

“Dié boek het homself geskryf. Ek het gesien hoe mense elke dag doodgaan en net deel van statistiek word sonder dat daar regtig iets daaraan gedoen word.  Ek glo God het die woorde op my hart gelê en ek het dit toe neergepen.”

Sy het besluit om die boek te skryf omdat sy graag ’n stem wou gee aan slagoffers van plaasaanvalle en plaasmoorde. “Ek het een aand twee bejaarde slagoffers van ’n plaasaanval se saak hanteer by die polisiestasie. Ek sal nooit die vrees wat hulle gehad het werklik kan verduidelik of vergeet nie.”

Sy sê dat enige persoon wat só tipe trauma self ervaar, iemand verloor as gevolg van ’n aanval of selfs mense wat ’n plaasmoordtoneel moet besoek, se vlerke geknak word. Vandaar die titel van die boek. “Ek weet nie eens hoe mens so iets werklik verwerk nie.”

Volgens Barry is enige vorm van berading ná ’n traumatiese ervaring ’n móét. “Aan die einde van die dag maak God alleen dinge draaglik.”

Sy meen daar is ’n tekort aan slagofferbystand in die land. “Op baie tonele is die slagoffers verbouereerd en heeltemal aan hul eie genade oorgelaat. Veral met plaasaanvalle waar mense so afgesonder is van ander, is bystand op die toneel en veral opvolgbesoeke daarna van uiterse belang.”

Barry meen die soort werk wat AfriForum Trauma vir slagoffers doen, is broodnodig. Veral omdat daar slagoffers is wat nie net emosionele, maar ook finansiële uitdagings het. “Ek weet dat daar gevalle is waar mense nie net aangerand en verkrag word nie, maar ook rot en kaal besteel word en nie weer kan bekostig om van hulle besittings te vervang nie.”

Om dié rede het Barry besluit om 30% van haar boek se wins aan AfriForum se slagofferondersteuningsfonds en ’n verdere 10% aan Solidariteit Helpende Hand se studiefonds vir verdienstelike studente te skenk wat spesifiek landbou wil studeer.

Afvlerkvoëls word deur Malherbe Uitgewers uitgegee en kos R234.

Soortgelyke plasings