|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek ’n reuse-oorwinning behaal deur die regering se planne om R50 miljoen aan Kuba te skenk, te stuit. AfriForum het in 2022 reeds ’n dringende interdik bekom om hierdie skenking te keer en ná verskeie pogings van die regering om te appelleer, het die Pretoriase Hooggeregshof in AfriForum se guns beslis.

AfriForum gaan ook sy stryd voortsit teen die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die Bela-wetsontwerp) wat Donderdag deur die Nasionale Vergadering aanvaar is. Dié organisasie, Kaapse Forum en verskeie ander organisasies en politieke partye het voor die aanvaarding voor die parlement betoog. Die Bela-wet word beskou as ’n direkte aanval teen Afrikaanse onderrig, wat uiters negatiewe gevolge vir gehalte-onderrig in veral Afrikaanse enkelmedium, maar uiteindelik ook alle Suid-Afrikaanse skole sal hê.

Uitspraak is voorbehou in die saak oor die onbillike subsidiebedrag wat die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling aan Sunfield Home Fortuna buite Balfour betaal. AfriForum voer saam met Sunfield aan dat die subsidiebedrag met inflasie verhoog moet word en dat dit onaanvaarbaar is dat dié tehuis wat na fisiek en verstandelik gestremde persone omsien se subsidiebedrag geensins die afgelope 15 jaar verhoog is nie.

AfriForum, die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), die Raad van Gesondheidsfinansiers (BHF) en mediese fondse soos Momentum Health het almal weereens die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) verwerp tydens ’n openbare verhoor in Krugersdorp. AfriForum voer aan dié radikale wetsontwerp moet in die belang van alle Suid-Afrikaners geskrap word – veral in die lig van die ekonomiese onvolhoubaarheid daarvan.

Die burgerregteorganisasie het ook ’n mondelinge voorlegging gelewer oor die Nasionale Vervolgingsgesag-wetsontwerp. Hierdie voorlegging, voor die parlementêre portefeuljekomitee oor Justisie en Korrektiewe Dienste, het die wetsontwerp gekritiseer en omvattende wysigings is ook voorgestel.

300 personeellede van AfriForum en Solidariteit het self moue opgerol om die gebied rondom dié organisasies se hoofkantore in Pretoria skoon te maak as deel van AfriForum se #OnsSalSelf-projek. Personeel het die sypaadjies en ’n nabygeleë veld skoongemaak, padtekens weer duidelik geverf en slaggate gevul. Herwinningsasblikke is ook geverf sodat dit na verskeie AfriForum-takke versprei kan word.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig vir Reece Lopes (20), Milan Kruijer (20) en Jude Fraser-Grant (21) ná ’n TikTokker se beweerde vals en skadelike bewerings van rassisme wat teen die drie jongmense in ’n reeks TikTok-plasings gemaak word. Die TikTokker word nou strafregtelik ondersoek.

In Standerton het die AfriForum-tak nog twee substasies met alarmstelsels toegerus. Hierdie projek word aangepak in samewerking met Kasselman Sekuriteit, wat die alarms moniteer, en Janson Sekuriteit, wat die installasie behartig van die alarms wat AfriForum borg.

Die AfriForum-tak in Vereeniging het ses bome by M&G Autism Center in Drie Riviere geplant en 20 bome aan Proudly Three Rivers, ’n organisasie wat hom beywer vir die opknapping van die Drie Riviere-gemeenskap se strate, sypaadjies en parke, geskenk.

AfriForum se Walker Drive-buurtwag het ’n selfoon aan die Kabegapark-polisiestasie in Port Elizabeth geskenk Dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat beurtkrag ’n ernstige invloed op die stasie se beskikbare kommunikasiekanale het.

Soortgelyke plasings