|

Solidariteit-gesprek in Europa wen steun vir Afrikaans

Die afvaardiging van die Solidariteit Beweging wat vandeesweek na Europa vertrek het om steun vir Afrikaans en voortgesette beleggings in Suid-Afrika te werf, het vrugtevolle gesprekke met rolspelers gehad.

Die afvaardiging wat onder andere Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, en Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum insluit, het met leiersfigure en parlementslede van die Britse en Belgiese parlemente vergader.

Die doel van die besoek is om mense in die buiteland bewus te maak van gebeure in die land en om steun vir verdienstelike Afrikaanse projekte te werf. “Ons uitgangspunt is dat ons positief oor die land is, al is ons negatief oor die regering,” het Buys gesê.

Die doel is verder om met beleggers te skakel en te versoek dat handelsbande met Suid-Afrika nie afgeskaal of opgeskort word nie, maar dat hulle eerder moet help dat die regering sy huis in orde kry, het hy gesê.

Dit is ook nodig dat steun vir Afrikaanse skole en universiteite gewerf word, het Bailey gesê. Sy meen sekere Suid-Afrikaanse universiteite is skynbaar nie bewus van die nuutste ontwikkelings op die gebied van onderrigtaal nie. “Die gevaar bestaan dat hulle besluite in isolasie neem wat tot nadeel van hul buitelandse bande met top-Europese universiteite kan wees.

“Die afvaardiging wil daarom ook kyk na groter samewerking tussen Akademia en top universiteite in België en Nederland.”

Die afvaardiging het Maandag in Antwerpen goeie gesprekke met sakelui, mediaverteenwoordigers en akademici gehad. Dinsdag is ’n besoek aan die Belgiese Federale Parlement gebring. ’n Besoek is ook Woensdag aan die Britse Parlementsgebou gebring.

Bailey het gesê Buys se toespraak voor die SA Chamber of Commerce het wye reaksie ontlok. “Daar is indringende vrae gevra en dit is duidelik dat mense bekommerd is oor wat in Suid-Afrika op ekonomiese en menseregtevlak gebeur. Die reaksie is deurgaans dat indien korrupsie, politieke onstabiliteit en misdaad nie vasgevat word en onderwys nie verbeter nie, nog meer beleggers sal verdwyn. Daar is wel groot bewondering  en steun vir die aksies van al die bene van die beweging,” het Bailey gesê.

 

Soortgelyke plasings